Dié entrepreneur verdien ‘n TVB 1-nommerplaat!
Só word daar gesorg vir pap in die bord, met so nou-en-dan 'n bietjie suiker...
Piet van Tonder van Vanderbijlpark skryf:
Dit is eintlik verbasend hoe min ons weet van ons eie dorp. Ons loop op dieselfde ou paadjie wat ons uittrap tot onder die oksels toe en weet nie hoe en wat doen die ander siele nie, want ons paadjies kruis nooit. Behalwe per ongeluk soos die entrepreneur met sy perdewa.
Die vullisverwyderende mannetjie was op pad uit toe ek hom gesien het, so hy moes seker Boipatong se kant toe gegaan het. Met dit in gedagte stop ek toe by twee ouens wat ek ken, wat besighede het oorkant die kruising tussen Curie-boulevard en die R57 of sogenaamde goue hoofweg. Die kruising waar die verkeersligte so ‘n tyd gelede heel uitgeruk is.
Nee, vertel hulle my, daar is vier van die waentjies wat hulle daar sien. Een met ‘n swart perd (my tjomma op die foto), een witte, een bruine en dan ‘n skimmelperd. Die swartperd-man is die meer bedrywige van die klompie en toevallig het hy die dag (verlede Woensdag) ‘n klompie staalskrot by een van die ouens gaan aflaai.
Ek het intussen ‘n TVB 1-nommerplaat gekry en wil die outjie inwag en dit aansit op daai wa!
Ek wonder hoeveel sulke “besighede” bestaan daar in die Vuildriehoek (Refentse s’n en myne ook) waarvan ek net eenvoudig nie weet nie, wat mense bedryf? Suiwer, om te oorleef en nie noodwendig afhanklik is of selfs wil wees van ‘n government grant nie.
Verblydend is dat albei my ooggetuie-vriende my verseker het van die goeie kondisie van die perde en dit is vir my goed.
Aan die ander kant moet mens dié informele entrepreneur se dienste miskien maar nie te veel lig gee nie, want dan raak al wat leef en beef weer betrokke en kort voor lank moet hulle permitte kry en die diere moet gaan vir weeklikse hoefinspeksies en hy moet een of ander assosiasiefooi betaal en wielbelasting en missakke…. en… en…
Ek kraak geensins iemand af nie. Hulle doen goeie werk. My oortuiging is dat die oomblik wat jy iets begin reguleer, verdwyn die inisiatief ook en word dit net deel van die red tape-trein met iemand anders wat skep.
Dit is soos die karwagstorie in Vereeniging waar die mense toegesluit is omrede hulle nie op die Baas se boeke geregistreer was nie. Hulle het dus nie ‘n pas gehad om in die dorp te wees nie.
In ruil vir die R800 wat betaal moet word vir opleiding en wat nog, kry hulle wat? ‘n Stukkie pampier met ‘n tjap en nommer op wat nou sy pas is! En nog? Sonbrandolie? Hoed? Reënjas? Werker van die maand?
Ja, ek verstaan. Daar kan hordes redes gegee word oor waarom wel, maar die ongeluk is dat die klein vissies gewoonlik vrek aan te min suurstof. Dit is juis die groep wat opgepas moet word, want dit is hulle wat sorg dat daar pap in die bord is, met so af en toe suiker om oor te strooi. Was dit nie daarvoor nie, dan was die ellende nog meer.



