Lethabo: Regering moet dringend ingryp – kenner
Is besoedeling die oorsaak van verkouesimptome en sinus?
Retha Fitchat
DENEYSVILLE. – Is die vlaag sinusprobleme en griepsimptome wat talle inwoners van die Vaaldriehoek tans verduur net te wyte aan die normale draai van die seisoene, of is daar dalk iets meer sinister in die lug?
Dié vraag is die afgelope maand deur verskeie lesers gevra, met die versoek dat Vaalweekblad ondersoek moet instel.
Sommige inwoners wat gereeld by die Lethabo-kragstasie verbyry of dit van ver af sien, rapporteer dat daar deesdae gereeld ‘n rokie uit die dun skoorstene draai – die gevolg van die verbranding van steenkool. Anders as die verkoelingstorings waar daar net skadelose wolkagtige stoom uitkom, word rook uit die lang dun torings as nadelig beskou as dit in groot hoeveelhede uitgelaat word.
Vaalweekblad het by ‘n afgetrede senior werknemer van Eskom, wat verkies om nie geïdentifiseer te word nie, gaan kers opsteek oor die huidige situasie by Lethabo.
“Die groot, korter torings is verkoelingstorings en daar kom net stoom uit, maar die lang dun torings is skoorstene en daar kom rook uit, wat veroorsaak word deur die verbranding van steenkool,” verduidelik die oudwerknemer, wat ‘n kenner op die gebied van kragstasies is.
Die stasie is gebou met ontstowwers (precipitators) wat die lug suiwer wat van die verbrandingsproses af kom. As die ontstowwers goed werk, moet hulle die lug so suiwer dat daar minder as 50 deeltjies uit ‘n miljoen (ppm – parts per million) in die lug kom vir elke eenheid van die stasie. Daar is ses eenhede wat krag verskaf. 50 ppm is so min dat mens van ver af geen rook moet sien wat uit die skoorstene (smoke stacks) kom nie.
Die stasie moet volgens wet die uitlaatgasse monitor. Bo 50 ppm word boetes gehef en teen 2022 word omgewingswetgewing so streng dat ‘n kragstasie afgeskakel kan word as hulle nie aan die vereistes voldoen nie,” sê die kenner.
Hy sê voorts die rede vir die erge rook uit die skoorstene is omdat die stasie nie voldoende onderhoudswerk aan hul ontstowwers doen nie. “Of hulle is net laks en doen nie hul werk nie, óf hulle probeer geld spaar deur nie te spandeer nie of dit eenvoudig af te sit. Ons weet Eskom is in ‘n penarie wat geld betref. Dit is veroorsaak deur konstante swak bestuur oor die laaste 20 jaar. In die jare ‘90 was Eskom gekroon as die beste kragverskaffer te wêreld, maar tans is hulle seker die swakste.
“Dit is absoluut tragies wat hier gebeur en baie groot ingrype is nodig vanaf regeringskant. Die aksies om korrupsie uit te roei by veral onderhoudswerk, is tans stadig en onvoldoende,” sê hy.
Vaalweekblad het Eskom om kommentaar oor die aantygings gevra, maar nog nie ‘n antwoord gekry nie. Eskom se verduideliking sal in ‘n opvolguitgawe gepubliseer word.



