Balju neem Emfuleni se meubels en rekenaars weg weens slegte skuld
Amptenare van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit moes verlede Donderdag hul werksaamhede summier stop toe die balju beslag op 15 rekenaars sowel as kantoormeubels kom lê het
Eerste publikasie: 30 Mei 2018
Amptenare van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaaloewer, Vanderbijlpark en Vereeniging) moes verlede Donderdag hul werksaamhede summier stop toe die balju 15 rekenaars en ‘n aantal kantoorstoele uit die munisipale bestuurder en krediteure-afdeling se kantore verwyder het.
“Hierdie aksie is sekerlik een van vele wat gaan volg omdat die Emfuleni-munisipaliteit nie hul diensverskaffers betaal nie. Hierdie diensverskaffers is genoodsaak om hulle tot die hof te wend in ‘n poging om hul uitgawes te verhaal,” sê VF Plus-raadslid Gerda Senekal.
Van die rekenaars is glo Maandag na die munisipaliteit teruggeneem sodat amptenare kan probeer om hul dringendste werk te doen.
Rdl. Senekal bevestig wat Vaalweekblad onlangs berig het, dat diensverskaffers wat byvoorbeeld uitgekontrakteer is om vullisverwyderingsdienste te behartig, dit nie meer op ‘n weeklikse basis kan doen nie. Die dienste word nou op ‘n maandelikse grondslag gelewer weens die munisipaliteit se ernstige brandstoftekort.
Rdl. Senekal sê ‘n verdere probleem is dat net drie vragmotors tans vir vullisverwydering gebruik kan word. Sowat 15 jaar gelede het die plaaslike owerheid meer as 40 vullisverwyderingstrokke in werkende toestand gehad. Tans skuld die stadsraad die vullisverwyderingskontrakteur R9 miljoen vir dienste gelewer.
“Intussen hoop vullis oral op. ‘n Gesondheidsgevaar is onafwendbaar as die situasie voortduur,” sê rdl. Senekal. “Kantore van die VF Plus word oorval met oproepe van inwoners wat dreig om hul dienstegeld terug te hou weens die swak dienslewering op die dorp. Die situasie in Emfuleni is besig om breekpunt te bereik en belastingbetalers se geduld is op,” sê sy.
* Inwoners van verskeie dele van die Vaaldriehoek was die afgelope naweek sonder water, nadat ‘n elektriese kabel wat krag aan die waterpompe moes verskaf, gesteel is. Rand Water het Maandag aangekondig dat die kragkabel intussen herstel is en dat sy reservoirs weer besig is om opgevul te word.
Dit is egter nog onduidelik of die Vaaldriehoek se watersituasie uit sy huidige krisis is aangesien Rand Water verlede week aangekondig het dat waterdruk binnekort weer met 20% verlaag gaan word weens Emfuleni se onvermoë om sy skuld by Rand Water te delg. Dele van Vanderbijlpark se middedorp was Maandag reeds sonder water en na verwagting sal die drukverlaging spoedig na ander dele van die munisipaliteit uitgebrei word. Hou Vaalweekblad Facebook dop vir daaglikse vars nuus oor die watersituasie.



