Nog geen goeie nuus van Wayne se kant af nie
Sportman wat albei bene verloor het, moet inderhaas teruggaan teater toe
Mev. Jenny Schreüder, ma van Wayne, wat albei bene weens ‘n seldsame bloedsiekte verloor het, sê die nuus uit Bloemfontein is nog nie goed nie. Sy laat weet:
“Wayne het ons nou net gekontak om vir ons te sê dat hy besig is om papiere te teken want hy gaan weer terug teater toe. Sy hele stump is vol infeksie en van die steke is al besig om uit te skeur. Hy gaan terug teater toe en hul gaan die hele wond weer oopmaak om te kyk wat aangaan, die infeksie skoonmaak en weer die wond toewerk. Ons vra asb dat almal nou vir Wayne sal begin bid dat GOD saam met hom teater toe sal gaan, dat die HERE die drs se hande sal lei om die regte besluite te neem en dat JESUS en Sy Engele ‘n veiligheidsirkel om hom sal vorm en hom veilig sal hou om hierdie nuwe kriesis in sy lewe te hanteer en hom sterker te maak vir more.. ASB BEGIN BID” – Lees ook die berig hier onder wat in hierdie week se Vaalweekblad verskyn het:
Oud-sportman verloor albei bene
Deur Retha Fitchat
SASOLBURG. – ‘n Paar jaar gelede het Wayne Schreüder (33) nog gereeld rugby, tennis en krieket gespeel en mededingend geswem. Dit was totdat hy nege maande gelede sy regterbeen weens ‘n seldsame mediese toestand verloor het.
Verlede week moes Wayne se linkerbeen ook in ‘n noodoperasie in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein geamputeer word.
Volgens sy ma, mev. Jenny Schreüder van Sasolburg, was Wayne en sy gesin die eerste keer daarop voorbereid dat een van sy bene afgesit moes word. Hulle het dit egter glad nie verwag dat hy verlede week ook sy ander been sou verloor nie.
Wayne ly aan ‘n seldsame siekte wat veroorsaak dat sy bloed klonte vorm en die bloedtoevoer na veral sy bene, belemmer is. Sy liggaam reageer glad nie op die medikasie nie, met gevolg dat die spiere en weefsel van sy bene begin afsterf het weens gebrek aan suurstof. Sy regterbeen is in Augustus verlede jaar in die Universitas-hospitaal geamputeer.
Die amputasie van sy linkerbeen het op 17 Mei vanjaar tydens ‘n noodoperasie gevolg. Wayne is steeds in die hospitaal en sal moontlik teen die einde van die week na Sasolburg kan terugkeer.
“Ons gesin is nog op ‘n baie moeilike plek. As ouers voel my man Johan en ek so magteloos. Ons wil ons kind baie graag help maar daar is so min wat ons kan doen,” sê Jenny.
Wayne, wat die afgelope maande geleer het om met net een been oor die weg te kom, sal nou van vooraf moet aanpas by ‘n rolstoel, of sal met twee kunsbene moet leer loop.
Dié oud-leerling van Laerskool Leeuw-spruit en die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg het as kind reeds in rugby uitgeblink en op skool aan wedstryde in Australië deelgeneem. Hy het mettertyd ook flank of senter vir die Valke-Suid sowel as vir VUT se eerste en tweede rugbyspanne gespeel.
Hy was ‘n werknemer van Sigma-myn in Sasolburg maar kan weens sy siekte nie meer werk nie. Hy het middel verlede jaar kwaai hoofpyne en ondraaglike pyn in sy bene begin kry. Aanvanklik is vermoed dat ‘n rugwerwel ‘n senuwee vasknyp, totdat dokters vasgestel het dat hy aan die ongewone toestand ly wat sy bloed laat klont.
Die amputasie van albei Wayne se bene is nie die enigste mediese terugslag wat die Schreüder-gesin die afgelope tyd getref het nie. Jenny het verlede jaar ‘n beroerte gehad, wat haar geheue en spraak effens aangetas het. Wayne se pa, Johan, wat hartprobleme het, is ook vroeër die maand met aggressiewe pro-staatkanker gediagnoseer.
Behulpsame inwoners van die Vaaldriehoek het reeds onderneem om die gesin se huis in Sasolburg te help rolstoelvriendelik maak vir Wayne, en om die badkamer te verander sodat hy makliker toegang sal hê.
“Ons is oorweldig deur die goedgesindheid van so baie mense wat vir ons bid. Toe ek Wayne van al die boodskappe van bemoediging op Facebook vertel, het hy dadelik trane in sy oë gekry,” sê Jenny.
Hulle sal baie dankbaar wees as iemand ‘n platskerm TV kan skenk wat aan Wayne se muur gemonteer kan word. ‘n Verstelbare mediese bed en ‘n dakwaaier met afstandbeheer sal ook opreg waardeer word.
Enigiemand wat graag hulp of ‘n donasie wil aanbied, kan Jenny kontak by 082 877 4500 of skenkings inbetaal in die rekening van:
Mnr. JH Schreüder. Nedbank Tjekrekening 1764330579, Sasolburg, Takkode: 17643650.
* Volg Wayne se vordering op die Facebookblad: Bid vir Wayne Schreuder / pray for Wayne Schreuder.




