‘Ek soek net pappa se as’
VEREENIGING. - Asof die warboel van emosies waarin jy jouself bevind wanneer jy ’n geliefde aan die dood moet afstaan nie erg genoeg is nie, wag Yolande Greyling nou al byna ses weke vir haar pa, Abraham Carel Greyling (62), beter bekend as Apie, se as nadat hy op 19 Junie oorlede is.
VEREENIGING. – Asof die warboel van emosies waarin jy jouself bevind wanneer jy ’n geliefde aan die dood moet afstaan nie erg genoeg is nie, wag Yolande Greyling nou al byna ses weke vir haar pa, Abraham Carel Greyling (62), beter bekend as Apie, se as nadat hy op 19 Junie oorlede is.
Abraham het emfiseem en chroniese asma gehad. Hy het die laaste drie maande agteruit- gegaan en was bedlêend. “Pappa kon nie loop nie en hy wou ook nie eet of eers iets drink nie, maar hy het nog met ons gesels,” sê Yolande.
Yolande vertel dat hul priester op 17 Junie by hulle aangekom het om vir haar pa te bid. “Hy het my nog gevra of dit nie beter sal wees as ons die ambulans bel dat my pa dokter toe kan gaan nie, maar my pa het gesê hy is reg.” Later die middag het Abraham egter Yolande se oudste dogter, Melissa (13) gevra om haar ma te vra om tog maar die ambulans te bel. Yolande sê hulle het die ambulans om 16:15 gebel en die aand om 21:45 het hulle eers haar pa kom haal en na die Kopanong Hospitaal geneem. “Toe ons daar aankom het hulle pappa dadelik gehelp en op suurstof gesit. Hulle het ook ’n pilletjie onder sy tong gesit vir sy hart.”
Die dokter aan diens het die slegte nuus aan Yolande oorgedra dat haar pa erge hartversaking het. Die bloedtoetse wat gedoen is, het dit bevestig. Yolande het ‘n kussing en komberse vir haar pa na die hospitaal gestuur. Sy het die dag daarna met hom op die telefoon gepraat, maar kon weens vervoerprobleme nie by hom gaan kuier nie.
Sy het op 19 Junie ’n geleentheid gekry om haar pa te besoek. Met haar aankoms by die hospitaal het sy haar oudste niggie raakgeloop en hulle is saam na haar pa toe. Die verpleegsters aan diens het gesê hulle was ‘n paar minute gelede by Abraham en Yolande en haar niggie kan hom vinnig besoek, min wetend van die skok wat op hulle wag.
“Pappa het opgekrul in die bed gelê met net ’n doek aan. Hy was yskoud. Sy selfoon was in sy hand toegeknyp en my naam het op die skerm gestaan, ek dink hy wou my bel,” sê Yolande. Sy kon nie verstaan dat die verpleegsters nie kon sien hy is dood as hulle wel ’n paar minute voor sy daar was nie. Hulle het egter gesê sy kan haar pa was as sy wil.
“Ons het so gesukkel om sy selfoon uit sy hand te kry en om sy bril, wat sommer skeef op sy gesig gesit het, af te kry.”
Abraham het maar ‘n skamele 39kg geweeg toe hy dood is. ‘n Verassingsdiens is op 24 Junie by die Ou Apostoliese Kerk in Arconpark vir hom gehou. Yolande het haarself voorberei dat sy sowat ’n week gaan wag vir haar pa se as, maar dit is nou al meer as ses weke en daar is steeds geen teken daarvan nie.
“Ek het navrae gedoen en Avbob het gesê hulle wag vir papiere van die hospitaal.,” sê sy.
“Ek kan nie slaap nie, dit vreet my. My pa is nie meer hier nie en al wat ek graag wil hê is sy as.”
Intussen probeer Yolande kop bo water hou. Haar pa was die broodwinner in die huis en tans trek sy swaar om aan haar twee kinders die nodige te voorsien. Yolande wil graag dankie sê aan elkeen wat haar deur hierdie tyd ondersteun het, veral August en Lorraine Lipke. “Ek vra nie veel nie, al wat ek vra is pappa se as.” Volgens mev. Cecily Kühn van Avbob Vereeniging was hulle reeds gister (4 Augustus) besig met die verpakking van die as.
“Ons het gewag vir die nodige papierwerk van die dokter, maar ons het dit gekry en Abraham Greyling se as is by ons,” sê sy.



