LifestyleLocal newsNews

Vaalweekblad maak kennis met ‘Ridder van die vulliswa’

Hy het daarvan gedroom om ‘n beter lewe vir hom en sy gesin te maak en het besluit om in Suid-Afrika te kom werk

 
Lazarus Dithagiso

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van Bophelong noem hom ‘Rra-dithuso’ (helper), ander sê ‘Rra dipitse’ (die man met perde), maar sy regte naam is Tshidiso Thakabanna. Dít is die 26-jarige drywer van die perdewa oor wie Vaalweekblad onlangs berig het, nadat verskeie inwoners hom in die dorp se strate gesien het terwyl hy besig was om vullissakke uit woonbuurte te verwyder.

Vaalweekblad het Tshidiso, die pa van twee kinders, in Bophelong opgespoor waar hy reeds ‘n bekende onder die inwoners is. Tshidiso is in Butha-buthe, Lesotho, gebore waar hy ook ‘n bestaan uit die vervoer van steenkool en ander transportwerk gemaak het. Hy het daarvan gedroom om ‘n beter lewe vir hom en sy gesin te maak en het besluit om in Suid-Afrika te kom werk, maar sy vrou moes in Lesotho agterbly om na die kinders te kyk.

Tshidiso, wat ‘n Graad 8-sertifikaat in Lesotho verwerf het, het vergeefs werk in die Vaaldriehoek kom soek, en gou besef dat hy self ‘n plan sou moes maak om ‘n inkomste te kry.

“Die mense in die Vaaldriehoek sukkel om my te verstaan,” sê Tshidiso in sy moedertaal, Sesotho, die enigste taal wat hy kan praat. Hy sê selfs plaaslike Sesotho-sprekers sukkel om hom te verstaan want die dialek verskil, “en hulle sê die Sesotho wat ek praat, is te ‘diep’ en moeilik”.

Sy liefde vir perde kom reeds uit sy kleintyd in Lesotho. Hy het besluit om sy kennis van perde en transportwerk in die Vaaldriehoek voort te sit omdat hy gesien het dat hier ‘n groot behoefte aan informele vervoer is.

“Ek was gelukkig om ‘n plaaslike perdeboer in Evaton te ontmoet wat twee perde aan my verkoop het. Ek versorg die perde in die erf by my huurhuis in Muvhango, Bophelong,” sê hy.

Hy bemark sy dienste deur met sy perdewa in die township en woonbuurte rond te ry en tuinvullis of vullissakke te verwyder waar daar nie munisipale verwydering is nie. Die prys hang af van die afstand en grootte van die vrag, sê hy.

Tshidiso sê hy het agter munisipale vulliswaens aangery om te kyk presies waar hy mag aflaai en maak seker dat hy huishoudelike vullis op die regte plekke gaan stort.

* Mnr. Piet van Tonder, wat Vaalweekblad eerste oor dié “vullis-entrepreneur” ingelig het, het intussen vir Tshidiso se perdewa ‘n nommerplaat, TVB 1, laat maak en dit op die perdewa laat aanbring. “Hy verdien dit!” sê Piet. TVB 1 was jare gelede die registrasienommer van die ampsmotor van Vanderbijlpark se burgemeesters.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button