Vriende en familie sê tot siens aan Wayne
"My hart het geskeur van trots op hom toe julle die bal nadat hy uit die kerk is, afgehaal en vir my gegee het."

Mev. Jenny Schreüder skryf dié mooi brief na Maandag se begrafnisdiens wat vir haar seun Wayne gehou is nadat hy op die ouderdom van 32 kom haal is. Wayne, ‘n voormalige sportman van die Vaaldriehoek, het aan ‘n seldsame bloedsiekte gely wat sedert Augustus verlede jaar veroorsaak het dat albei sy bene uiteindelik afgesit moes word. Die toenemende bloedklonte in sy liggaam het veroorsaak dat al meer spiere en weefsel verwyder sou moes word. Hy het op 11 Junie sy stryd teen die siekte verloor.
Sy ma Jenny skryf:
Ek het gesukkel om so ver te kom om hierdie te skryf.. Wayne Schreuderse diens was gisteroggend elfuur en as ek daaroor skryf weet ek dit is so finaal.. Net soos die diens gister was.. Past Nico het my nog meer laat huil met die mooi woorde wat hy gesè het, as wat ek reeds stukkend was oor my kind wat dood is.. Soos ek in ‘n vorige stukkie genoem het, ek wou hom nog weer vasgedruk het, ek wou nog met hom gesels het oor elke dag se goedjies, ek wou nog duisend maal vir hom gesè het hoe lief ek hom vir altyd sal wees, ek sou so graag sy pyn wou wegvat, ek wou hom nog hier gehad het, gesond en met alles wat daar al van hom af weggesny en gevat was weer op hulle plekke.. Ek weet ook dit is nie moontlik nie, want hy is nou op ‘n plek waar hy nie meer pyn het nie en hy is weer die volledige mens soos hy was voor hierdie nagmerrie in ons lewe begin het.. Die HERE het hom net vir ons geleen en het hom op hierdie vroeë ouderdom weer terug geneem.. Ek wil graag dankie sè vir elkeen wat gister by Wayne se diens was.. Dankie vir Past Nico vir die woorde wat so diep in baie van ons ingesny het, dankie dat u Wayne beskryf het net soos hy was, vol lewe en altyd tyd vir ander mense in nood.. Hy het altyd ander eerste gestel en laaste aan homself gedink..Dankie vir spelers wat saam met hom rugby gespeel het vir jare wat ‘n erewag gevorm het toe sy kis in die kerk en weer na die diens uitgedra is .. Julle het vir ons as gesin soveel eer aan Wayne gegee deur die getekende rugbybal op sy kis te sit voordat hy in die kerk in gedra was.. My hart het geskeur van trots op hom toe julle die bal nadat hy uit die kerk is, afgehaal en vir my gegee het.. Dit sal vir altyd op ‘n ereplek in ons huis gesit word.. Jy sou trots gewees het op jou rugby maats my kind.. Die blomme in die kerk en op jou kis was net soos jy altyd was, vol kleur en lewe.. Vir die mense wat nie daar kon wees nie, gaan mamma foto’s opsit en ek is seker hul sal saam met my stem.. Mamma is nog nie reg om finaal te groet nie en daarom sal ek net vir jou sè “Ek sal nooit ophou om vir jou lief te wees nie en jy sal altyd in my hart wees en daarom sè Mams net “sien jou eendag Smurfie, sien jou weer eendag”..



