CommunityNewsNews

Verona: “Die tyd is nou”

MEYERTON. - “Skep jou asem hou dit in, tel tot drie voor jy wegspring, die wêreld wag nie so begin. Die tyd is nou om die ekstra myl te loop, maak jou tree weer ekstra groot. Om te wag maak drome dood. Geen beter tyd as nou,” lui die lirieke van een van Verona Goslett (26) se liedjies op haar splinternuwe album met die titel, Maskers, wat op 1 Junie vrygestel is.

Wanneer jy onbewustelik begin om die lirieke van ‘n nuwe liedjie wat jy gehoor het te neurie, dan weet jy óf die kunstenaar het iets reg gedoen, óf jy kan jouself vereenselwig met die lirieke óf jy hou eenvoudig van, soos hulle sê, die beat.

In die geval van Verona is dit ‘n kombinasie van die drie. ‘n Klein meisie met groot drome is presies wat sy is, en van stilsit en wag dat dinge gebeur is daar geen sprake. “Jy moet jou drome laat waar word. Geen drome word waar as jy nie hard daarvoor werk nie. Ek het net eendag besef die tyd is nou,” sê sy.

Hierdie album en alles wat daarmee gepaard gaan het egter nie in haar skoot geval nie. Sy het met die hulp van die bekende Hugo Ludik en Vaughan Gardiner van Muse Productions haar kleindogtertjie-drome waar laat word.

“Dit was moeilik. Ek het voltyds gewerk en moes gereeld oortyd werk om tyd te maak om my album op te neem. Dit het my byna twee jaar geneem, maar dit was vir seker die moeite werd. Ek wou hê die eindproduk moet motiverend en inspirerend wees. Elke liedjie vertel ‘n ander verhaal.”

Sy kan egter nie een liedjie uitsonder as haar gunsteling nie, maar die liedjie, Hier’s ons nou, lê haar na-aan die hart. “Ek het insae gehad in al die liedjies. Ek sou party aande na werk sommer begin om ‘n liedjie te skryf en dan saam met Hugo en Vaughan sal ons so bietjie verander tot ons ‘n goeie eindproduk het, maar Hier’s ons nou is een van twee liedjies wat sy haar eie kan noem. “Hier’s ons nou gaan eintlik maar oor verlies wat ons almal in die gesig staar. Ek het die liedjie geskryf toe my beste vriendin, Mariet Steinmann, na Kanada geëmigreer het. In daardie stadium is my oupa ook oorlede en die realiteit was dat tyd nie stil staan of vir iemand wag nie. Dit was ‘n moeilike tyd vir my en ek kon deur my musiek daaroor skryf,” sê Verona.

Die ander liedjie, wat sy ook haar eie kan noem is Voorwaardes, wat sy vir die liefde van haar lewe FP Ackermann, geskryf het, wat haar elke dag inspireer om groter te droom.

Maar as Verona nie sing nie, wie is sy dan nou eintlik? Beslis nie iemand wat hou van stil sit nie. Na sy haar honneursgraad in Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus in 2014 voltooi het, het sy onder meer WILD en JAG, Finesse en 90.6fm gewerk. Sy het vir ‘n jaar lank saam met Marius Dreyer, van 90.6fm die Morning Mix at Six program aangebied. Sy het ook gedurende haar honneursjaar saam met een van haar vriende, Llewellyn du Plessis, ‘n realiteitsreeks, Vir Ewig en Altyd, wat op ASTV-kanaal uitgesaai was, geskiet. So of sy nou agter die kamera of voor die kamera is – sy is ewe gemaklik. Sy het ook die rol van Brionay in 7de Laan vertolk en is as naaswenner aangewys vir die bekende kykNET realiteitsprogram, Jy Is My Liefling in 2013.

“Ek het hard gewerk vir dit wat ek tot nou bereik het. Sonder my pa en ma, Ian en Magda Goslett, sou ek nêrens gewees het nie – hulle het my vlerke gegee. En so ook al die ander mense wat my ondersteun.”

Vir nou fokus Verona op haar werk as video produksie koördineerder en sosiale media bestuurder by WILD en JAG en om by korporatiewe funksies op te tree. Wat die toekoms vir haar inhou is onbekend, maar met soveel passie, toewyding en wilskrag kan haar toekoms nie anders as om suksesvol te wees nie.

* Verona het op 14 Junie haar eerste musiekvideo, Maskers, vrygestel.

Kyk gerus die musiekvideo deur op die skakel te klik: Verona – Maskers of kyk die hier:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button