Fietsryers geskok na bedelaar se skielike dood
Toe Francois enkele oomblikke later omkyk, het hy gesien die bedelaar het inmekaargesak en in die middel van die pad gelê....
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die lewe is kort en kosbaar en kan in een onverwagse oomblik verby wees. Dié lewenswaarheid het mnr. Francois Bezuidenhout twee weke gelede opnuut besef nadat hy gesien het hoe ‘n bedelaar, wat een oomblik nog piekfyn gelyk het, skielik voor sy oë sterf.
Francois, wat Saterdagoggende omstreeks 08:00 vir ’n paar ure saam met ander vriende fietsry, sê hy het die betrokke oggend die bedelaar met net een been by die kruising van Andries Potgieter- en Hendrik van Van Eck-boulevard oorkant die Dros Restaurant op sy krukke sien staan. Francois het na die oorkantste hoek van die verkeerslig gery om op sy fietsrymaat, Jan Combrinck, te wag.
Toe Francois enkele oomblikke later omkyk, het hy gesien die bedelaar het inmekaar gesak en in die middel van die pad gelê. ‘n Swart motoris het dadelik gestop en Francois gehelp om die bedelaar aan die arms op te lig en uit die pad te dra.
Aanvanklik is vermoed dat die bedelaar net bewusteloos was, maar toe Jan opdaag, het hy dadelik besef die man haal nie asem nie.
Daar was ook geen polsslag nie. ‘n Swart dame met kennis van noodhulp en Rescom Sekuriteit het ook gestop om te probeer vasstel wat skort. Netcare 911 is geskakel en was gou op die toneel, maar hoewel die paramedici hartmassering en ander noodbehandeling toegepas het, was dit duidelik dat hulle niks meer vir die man kon doen nie. Hy het vermoedelik aan ‘n massiewe hartaanval gesterf.
Francois het die bedelaar se swart hoedjie en die R10 wat hy die oggend ingesamel het, in die pad sien lê en by die man neergesit. Die polisie het later opgedaag, die toneel ondersoek en die liggaam laat verwyder.
Francois en Jan was so ontsteld oor die voorval dat hulle nie verder kon gaan fietsry nie. “Ons het toe maar net koffie gaan drink en oor die voorval gepraat,” sê hy.
Wat vir hom veral opvallend en ontstellend was, was dat swartmense bereid was om te stop en hulp aan ‘n witmens te verleen, terwyl verskeie wit motoriste stadig by die toneel verbygery en snedige aanmerkings gemaak het. Sommige van hulle het die fietsryers selfs beskuldig dat hulle “al weer iemand raakgery het”, sê Francois.
* Vaalweekblad het intussen vasgestel die bedelaar was mnr. Buks Olivier (62), wat die afgelope tien jaar deur ‘n Sasolburgse inwoner, mnr. Andrew Ferreira, gehuisves is.
Volgens mnr. Ferreira was Buks ‘n “goeie mens” wat jare gelede sy been in ‘n werksongeluk in Germiston verloor het. Buks se vrou is reeds jare terug oorlede. Hulle het nie kinders gehad nie en sover vasgestel kon word, het hy ook geen ander lewende familielede nie.
Hoewel Buks die oggend van sy dood gekla het van pyn waar sy been geamputeer was en hy pynpille daarvoor geneem het, het hy geen ander gesondheidsprobleme gehad nie.
Sy liggaam is tans nog by die Sebokeng-lykhuis terwyl mnr. Ferreira geld bymekaar probeer maak om hom te laat veras. Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak, kan mnr. Ferreira skakel by 076 861 5447.



