Local newsNewsNews

Bekende polisieman sterf by Fonteinesirkel

Bekende polisieman sterf by Fonteinesirkel

SASOLBURG. – Drie jaar nadat ‘n inwoner haar broer in ‘n motorfietsongeluk verloor het, het haar man, adj.off. Nicol van Blerk (44), op 30 Junie vanjaar op byna presies dieselfde manier gesterf.
Mev. Tanya van Blerk het die nag van Saterdag, 30 Junie die skoknuus by die president van hul motorfietsklub gehoor dat Nicol, wat aan die polisie in Zamdela verbonde was, in ‘n motorfietsongeluk gesterf het. “Nicol het die aand omstreeks 23:00 op pad huis toe, om die fonteinesirkel by die ingang van Sasolburg gery. Van sy vriende was voor hom op hul motorfietse en niemand het gesien wat presies gebeur het nie, maar hy het vermoedelik gegly en KFC se advertensiepaal getref,” sê Tanya. Nicol het op die toneel gesterf.  Nicol, wat in Namibië gebore is, het in Sasolburg grootgeword en aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg gematrikuleer voordat hy by die polisie aangesluit het. Hy was 24 jaar aan die polisie verbonde en was ten tyde van sy dood ‘n lid van die FCS-eenheid, wat oortredings teen vroue en kinders, sowel as seksuele misdrywe, ondersoek. “Hy was ‘n gebore polisieman met ‘n passie vir sy werk. Dit was sy lewe. Hy het dit nie net vir ‘n salaris gedoen nie,” sê Tanya. “Hy was ook ‘n toegewyde lid van die Restless Motorfietsklub
en ons het naweke graag saam op klubuitstappies gegaan. Hy was ‘n stil ou en baie lief vir hengel,” sê sy. ‘n Semi-militêre en “bikers-diens” is op 6 Julie vir Nicol in die NG gemeente in Keiskammastraat, Vaalpark gehou voordat hy in die Sasolburgse begraafplaas ter ruste gelê is. Lede van die Restless Motorfietsklub het agterna by Jackies Pub bymekaar gekom om die lewe van hul vriend te gedenk. Nicol word buiten Tanya, met wie hy 11 jaar getroud was, ook deur drie kinders, Nicol (jr.), Sunique en Charlotte oorleef.
* Tanya se broer, wyle mnr. Barry van Rooyen, het drie jaar gelede in ‘n soortgelyke motorfietsongeluk by die Sasolburg- ingang vanaf Vaalpark se kant, gesterf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button