Plaaslike dansers skitter in Kroasië
DanCeWorX UnLimited se kampioenskapspan maak die Vaaldriehoek trots!
SASOLBURG. – DanCeWorX UnLimited se kampioenskapspan het uitstekend presteer by die DanceStar-wêreldkampioenskappe wat vanjaar in Kroasië gehou is, nadat die span ook ‘n heerlike besoek aan Venesië gebring het. Hier het hulle as span baie pret gehad, ver geloop en ‘n heerlike gondelvaart op die kanale onderneem, sê die bekende Vaaldriehoekse dansafrigter Elrine Kotze.
Die hoogtepunt was ‘n besoek aan die pragtige wit Doge-paleis waar hulle die dakkuns in die balsaal as asemrowend mooi beskryf. Die duiwe op St. Markusplein het lekker uit die dansers se hande geëet en die span het ook baie pret gehad om tipiese Italiaanse pizza te kon eet. Met ‘n besoek aan die nabygeleë eiland, Murano, kon hulle sien hoe glasblasers fyn kunswerke uit die delikate materiaal maak.
Die span het daarna na Porec in Kroasië vertrek waar hulle deurgedring het na die finaal van die kompetisie – ook met nuwe items waarvoor hulle daar moes kwalifiseer. Die kompetisie is afgeskop deur ongeveer 7 000 dansers vanoor die hele wêreld met deelname van meer as 23 lande. Die Suid-Afrikaanse span het die verhoog laat kreun met meer as 400 deelnemers op die openingsaand en is ook as die sterkte span aangewys, wat die beste gees en ondersteuning geopenbaar het.
“DanCeWorX se span het waarlik die Vaaldriehoek trots gemaak deur hoë plasings in talle afdelings, sowel as een eerste plek vir ‘n senior klopdansgroep. Die lede van dié groep is LynMayri Redpath, Demi Du Plessis, Caitlin Peach, Chante van der Merwe en Carlia Dippenaar,” sê Elrine.
Twee tweede plekke (een solo deur Chante van der Merwe en ‘n ander deur die duetpaar Lynmayri Redpath en Dylan Paiva) is ook verwerf. Die hele span het ‘n derde plek behaal met hul groepdans DWX Force, waaraan die reeds genoemde lede sowel as die ander lede, Clodia Paiva, Abby Church, Chayenne Swanepoel, Danielle Venter en Nikita Erasmus, deelgeneem het. Die hulpchoreograaf was Lizell Crause.
“Elkeen van die dansers het ‘n top plasing ontvang. Al die harde werk het baie goeie vrugte afgewerp. Die span het uiters goed in dié veeleisende internasionale kampioenskap gevaar en Suid-Afrika se naam hoog gehou. DanCeWorX UnLimited is baie trots op ons wenspan,” sê Elrine.
Die besoek aan die pragtige Kroasië is verder afgerond met interessante besoeke aan die nabygeleë eilande.
“Die span is baie dankbaar teenoor die gemeenskap wat ons fondsinsamelings ondersteun het om hierdie wonderlike ervaring moontlik te maak. DanCeWorX UnLimited is baie trots op hierdie dansers en sien uit na nóg kompetisies aanstaande jaar,”sê Elrine.




