Dooie vis en vrot water vir Emfuleni
Strafregtelike klagte word ook oorweeg teen munisipaliteite wat versuim om aandag aan waterbesoedeling in hul gebiede te gee
Kyk ook die video heel onder
VANDERBIJLPARK. – ‘n Groep AfriForum-lede het verlede Maandag (6 Augustus) met ‘n dooie vis en emmersvol stinkende water by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteitskantore opgedaag om dit aan die munisipale bestuurder te oorhandig, maar nie hy óf enige ander senior amptenaar was beskikbaar om hul memorandum en onwelkome “geskenke” te ontvang nie.
AfriForum het egter gesê dat dit hulle nie van stryk gaan bring nie en dat lede van dié burgerregte organisasie met hul aktivisme oor die swak gehalte van die Vaaldriehoek se water, en die rehabilitasie van die Vaalrivier sal voortgaan. Strafregtelike klagtes word ook oorweeg teen munisipaliteite wat versuim om aandag aan waterbesoedeling in hul gebiede te gee.

Volgens Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, tree die organisasie se Vanderbijlpark- en Vereenigingtakke nou in waar onbehandelde riool in die rivier gestort word.
Aktiewe (goeie) bakterieë word in die water vrygestel om die riool af te breek en suurstof in die rivier terug te sit. “Dít sal hopelik verhoed dat verdere fauna en flora vrek,” sê Pawson.
Alle AfriForum-takke langs die Vaalrivier gaan soortgelyke aksies in hul onderskeie dorpe aanpak.
Mediumtermynaksies sal op die herstel van rioolpompe en -aanlegte, wat die grootste bron van besoedeling is, fokus. “AfriForum se langtermyndoelwitte met hierdie projek is om bekostigbare gemeenskapinfrastruktuur met die nuutste tegnologie te skep, sodat gemeenskappe self hul water kan suiwer sonder dat hulle op die regering hoef te wag,” verduidelik Pawson.
Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek, is die onbehandelde riool – wat direk in die Vaalrivier gestort word – ’n duidelike aanduiding van die swak dienslewering in Emfuleni.
“Die afwesigheid van samewerking in dié munisipaliteit is uiters kommerwekkend.
“Niemand wil verantwoordelikheid neem nie en lede van die gemeenskap moet ’n wekelange proses volg om ’n afspraak met die munisipale bestuurder te probeer kry. Dít terwyl dieselfde amptenary riool in die water stort tot die ernstige nadeel van mens en dier in die gemeenskap,” sê Ungerer.
AfriForum sal die situasie deurlopend monitor en op ’n volledige aksieplan met verantwoordbare persone aandring. Inwoners wat wil help om die Vaaldriehoek se riviere te rehabiliteer, kan by AfriForum se webtuiste (https://www.afriforum.co.za) registreer om aan die volgende rehabilitasie-aksies deel te neem.
* Kyk na die video waarin Markus Pawson AfriForum se standpunt verlede Maandag by die stadsraadskantore gestel het:



