LifestyleLocal newsNews

Leeskring bespreek sielkundige riller

'Soenofer' van Isa Konrad onder die loep geneem

Gerda Grové doen verslag oor die Vanderbijlparkse Leeskring se Winterbyeenkoms:
‘n Sielkundige riller word gedefinieer as: ‘n riller wat fokus op die onstabiele emosionele- of geestestoestand van die karakters, dikwels in kombinasie met elemente van misterie, afwagting of sielkundige afgryse. Die karaktertrek van ‘n sielkundige riller is dat dit die geestestoestand van die karakters beklemtoon: hul persepsies, gedagtes, verwrongendheid en stryd met realiteit. Dis deurtrek met spanning, afwagting en verras die leser met kinkels en onverwagte wending. Die antagonis steun nie op hul fisiese krag om hul vyande te oorwin nie, maar veel eerder op geestelike vernuf. Die uitdagings is nie ekstern nie, maar intern. Die konflik speel gewoonlik af deur met hul slagoffer, maar ook met die leser se brein te goël, teenoor die fisiese aksie in klassieke rillers.

By die Vanderbijlparkse Leeskring se Junie byeenkoms, gelei deur Me Lynette Cilliers was die lede ontstig tydens die lees en bespreking van die sielkundige riller ’Soenoffer,’ – Isa Konrad se verhaal.
Wat op aarde loop verkeerd dat ‘n negejarige dogtertjie ander kinders vermoor? Dit klink vergesog. Die persepsie is: kinders is onskuldig en nie instaat tot moord nie. In 1993 het twee 10-jarige seuntjies in Brittanje, die 2-jarige James Bulger vermoor. Daar is ander gevalle ook. Kinders moor wel. Die antwoord op hierdie vraag is eindeloos kompleks.
Die roman speel af in twee tydsvlakke: in die verlede toe die moorde gepleeg is asook in die teenwoordige tyd waar Isobel Swart, jare nádat sy as volwassene uit die tronk vrygelaat is, besluit dat sy haar lewensverhaal openbaar wil maak. Haar keuse val op Wessel Janke ’n joernalis wat spesialiseer in die bonatuurlike. ‘n Man sonder ’n identiteit met ‘n duistere verlede. Deur die loop van die roman kry die leser as te ware ‘n kykie in Isobel en Wessel se psiges.

Isobel wil háár storie vertel en gebruik haar hartseer kinderjare, om Wessel aan haar kant te kry. Soos haar storie ontvou, begin Wessel begryp wátter omstandighede aanleiding gee dat iemand sulke afskuwelike dade pleeg. Wát hy te wete kom, verander sy lewe onherroeplik. Die skrywer slaag uitstekend daarin om hierdie kompleksiteit uit te beeld. Verskeie uiteenlopende faktore en sienings kom aan die lig.

Deur die briljante kinkels en kabels kom die leser tot die yselingwekkende besef wát die soenoffer in die titel is en sorg vir die verrassende slot.

Die verhaal daag die leser uit tot begrip en nadenke oor die broosheid van die mens se geestesgesondheid.

  • Boekliefhebbers wat graag by die leeskring wil aansluit of meer inligting verlang, kan 079 521 7355 skakel.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button