Dogtertjie na tien miskrame
VANDERBIJLPARK. – Swangerskap is vir die meeste egpare ‘n opwindende tydperk in hul lewens, maar vir die Nienaber-egpaar van Rosashof was dit telkens ‘n senutergende bittersoet belewenis. Die egpaar moes met die vreugde van dertien swangerskappe en hartseer van tien miskrame saamleef. Op 31 Julie het die vreugdevure egter hoog gebrand met hul dertiende swangerskap …

VANDERBIJLPARK. – Swangerskap is vir die meeste egpare ‘n opwindende tydperk in hul lewens, maar vir die Nienaber-egpaar van Rosashof was dit telkens ‘n senutergende bittersoet belewenis. Die egpaar moes met die vreugde van dertien swangerskappe en hartseer van tien miskrame saamleef. Op 31 Julie het die vreugdevure egter hoog gebrand met hul dertiende swangerskap en die geboorte van klein Marizelle.
“Ek het endometriose gehad en dit het gelyk asof ek nooit sou kon kinders hê nie. ‘n Pastoor het eendag vir my en Kobus gebid en gesê dat ek wel eendag kinders sou hê, maar dat ek nie jonk sal wees nie,” sê mev. Kotie Nienbaber. Sy bestuur die voedinskema by Fakkelskool in Sasolburg en Kobus is die bestuurder van Doves Begrafnisdienste in Vanderbijlpark.
Sy het ses miskrame gehad voordat haar sewende swangerskap suksesvol was. Die egpaar se eersteling, Melchuordon, is op 13 Desember 2001 gebore.
Daarna moes die egpaar weer die hartseer van drie miskrame deurmaak. Na die tiende onsuksesvolle swangerskap het hulle besluit dat hulle moet aanvaar dat hulle nie met nog ‘n kind geseën sou word nie. Kotie het al die babagoedjies weggegee en die behandelings gestaak.
Sy het egter ‘n paar maande later sleg gevoel en besluit om dokter toe te gaan. Sy het toe met ‘n skok uitgevind dat sy reeds vier en ‘n half maande swanger was. Die Nienabers se “wonderwerk-seuntjie” Marchelldon is op 3 Desember 2012 met ‘n keisersnee in die lewe gebring.
Tussen sy geboorte en die van kleinsus Marizelle het Kotie nog ‘n miskraam gehad.
“Ons het aanvaar dat ons gesin nie verder sou uitbrei nie en nou is klein Marizelle hier. Ek beskou al drie my kinders as wonderwerke en moet my Hemelse Vader dank dat hy ons behoefte aan kinders raakgesien het. Ek bedank almal wat my deur die jare bygestaan het, veral tydens die hartseer van die miskrame. Dankie aan my man, ouers, skoonouers en familie, vriendinne en Mediclinic (dr. W.J. Odendaal) en die gemeente.
Kotie se pa, past. George Bezuidenhout, het al drie haar kinders ingeseën in haar dooprokkie van 1973 (42 jaar oud).
Kotie se pa is egter kort daarna oorlede. Sien berig onder.
* Kotie se broer het in November verlede jaar sy stryd teen spierdistrofie verloor en klein Marizelle is op sy verjaardag gebore, wat vir Kotie baie spesiaal.





