Veterane sien om na hul ‘Bos-buddies’
“Dié ouens was trots, en vandag is dit in baie gevalle daardie einste trots wat veroorsaak dat hulle in stilte ly, eerder as om te erken dat hulle alleen teen pyn en probleme veg,”
Retha Fitchat
Suid-Afrika se Bosoorlog van 1966 en 1989 het nie net baie lewens geëis nie. Dit het ook talle stukkende oudsoldate agtergelaat wat nie net fisiese littekens nie, maar in baie gevalle ook diep emosionele wonde veroorsaak het.
Destyds was dié manne van die stil, sterk en trotse soort. So is hulle steeds, hoewel dalk nie meer so sterk nie. “Dié ouens was trots, en vandag is dit in baie gevalle daardie einste trots wat veroorsaak dat hulle in stilte ly, eerder as om te erken dat hulle alleen teen pyn en probleme veg,” sê Johann Heyneke van Randvaal, self ‘n oudsoldaat en deesdae sameroeper van die Dogs of War Buddy-projek in die Vaaldriehoek.
Die Buddy-projek is ‘n ondersteuningsinisiatief en vriendskapsnetwerk wat deur Klub Omuthiya, ‘n Bosoorlog-veteraneklub in Tempe, Bloemfontein, in die lewe geroep is. Die klub is gestig deur voormalige lede van 61 Gemeganiseerde Bataljon wat tydens die Bosoorlog op die Omuthiya-basis gestasioneer was.
Die doel van die Dogs of War, wat ‘n “biker-assosiasie” vir veterane en nie ‘n gewone motorfietsklub is nie, is dat die geassosieerde bikers bewustheid onder die algemene publiek vir militêre veterane bevorder en fondse help insamel om veterane wat aan posttraumatiese stresversteuring ly of ander mediese hulp benodig, by te staan, sê Johann.
Die lede is almal vrywilligers wat hul tyd beskikbaar stel om na die belange van mede-veterane om te sien en ook veterane identifiseer wat hulp benodig.
‘n Militêre veteraan is ‘n persoon wat diens verrig het in die Suid-Afrikaanse Weermag, Vloot, Lugmag, Polisie (ook Spoorwegpolisie) gedurende die Bosoorlogjare, veral gedurende 1966 tot 1989.
Dit is ook nie altyd nét veterane wat by die Buddy-projekte baat nie.
Lede van die Dogs of War Veterane Assosiasie het onlangs verneem van ‘n mede-veteraan se seun, Eugene Fourie, wat aan motorneuronsiekte ly.
Die lede het saamgespan en ‘n rolstoel vir Eugene bekom, wat onlangs tydens ‘n geselligheid aan hom oorhandig is om sy lewe ‘n bietjie makliker te maak.
Die organisasie daag alle bikers, jonk en oud, van alle gevestigde klubs uit om by die Dog of War Veterane Assosiasie aan te sluit deur elk R250 vir ‘n metaalwapentjie by te dra, wat op hul motorfietsbaadjies vertoon kan word. Nadere besonderhede hieroor is beskikbaar by Johann Heyneke by 082 453 1065 of (016) 365 5572 of stuur ‘n e-pos na johann@bmi-steel.co.za.



