Een beseer in huisbrand
VANDERBIJLPARK. – ’n 63-jarige man is Maandagaand met ernstige brandwonde in Mediclinic Emfuleni se hoësorgeenheid opgeneem, nadat ’n bekende apteker se huis afgebrand het. Die brand het omstreeks 22:30 ontstaan toe ’n gasverwarmer aan die brand geslaan het. Jan van der Merwe (67), eienaar van die bekende Hennies Apteek in Vanderbijlpark en sy boesemvriend, Faan …

VANDERBIJLPARK. – ’n 63-jarige man is Maandagaand met ernstige brandwonde in Mediclinic Emfuleni se hoësorgeenheid opgeneem, nadat ’n bekende apteker se huis afgebrand het.
Die brand het omstreeks 22:30 ontstaan toe ’n gasverwarmer aan die brand geslaan het.
Jan van der Merwe (67), eienaar van die bekende Hennies Apteek in Vanderbijlpark en sy boesemvriend, Faan Schutte, wie ernstige brandwonde in die voorval opgedoen het, het die aand gekuier.
“Faan het opgestaan om die verwarmer se gasbottel toe te draai. Gas het skielik begin uitspuit en aan die brand geslaan. Sy gesig, hande en bene het gebrand. Ons het toe uit die huis gehardloop,” het ’n verslae Van der Merwe Dinsdagoggend gesê.
Buiten ’n wooneenheid wat vroeër vanjaar aangebou is en die dubbelmotorhuis, is sy huis in Abraham Krielstraat in puin gelê. “Alles wat ek in die lewe oorgehad het, is nou weg. Ek het versekering op die gebou maar nie op die inhoud van die huis nie,” het Van der Merwe gesê. Volgens familie en vriende kon die brand vinniger onder beheer gebring gewees het as die brandweer vinniger gereageer het.
“Die brandweer het ons gevra waar is Abraham Krielstraat. Die brandweerwa se pomp het moeilikheid gegee en die waterdruk was te laag. Die ander brandweervoertuie is toe glo van Vereeniging af ontbied,” het ’n vriend van die familie, wat die brandweer ontbied het, gesê.
Dit is nie die eerste keer dat die dorp se geliefde apteker ‘n brandslaggoffer is nie. In 1982 het sy apteek ook afgebrand.
“Ek het ’n uitknipsel van die brand (in 1982) in die huis gehad, nou is dit ook weg,” het Van der Merwe aan Vaalweekblad gesê.






