Suid-Afrika kort meer ystervroue
VANDERBIJLPARK. – Dit was 9 Augustus 1956: 20 000 vrouens stap na die Uniegebou om ’n beswaarskrif met 100 000 handtekeninge aan Eerste Minister J.G. Strijdom te gee. Die optog was onder leiding van Lilian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophia Williams. Die doel daarvan: om die dompasstelsel te skrap. Die optog was ’n …

VANDERBIJLPARK. – Dit was 9 Augustus 1956: 20 000 vrouens stap na die Uniegebou om ’n beswaarskrif met 100 000 handtekeninge aan Eerste Minister J.G. Strijdom te gee.
Die optog was onder leiding van Lilian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophia Williams. Die doel daarvan: om die dompasstelsel te skrap. Die optog was ’n reuse sukses en tot vandag word die vroue vereer vir hul braafheid. Daarom word Nasionale Vroue Dag elke jaar op 9 Augustus gevier.
Die inwoners van Jeugland Aftreeoord is verlede week deur DA Raadslid Phillip Nothnagel en sy vrou, Retha, onthaal as deel van die herdenking van Vrouemaand.
Inwoners is bederf met geskenkies en liplekker versnaperinge. Charles Rudd, ‘n bekende plaaslike kunstenaar, het die gehoor gratis vermaak met ‘n verskeidenheid gewilde liedjies, spesiaal opgedra aan vroue.
Cheryl Schmidt, vrou van die plaaslike Parlementslid, het as gasspreker opgetree.
Volgens Cheryl is die rol van die vrou baie belangrik in die toekoms van ons land. In die nasionale verkiesing van 2014 was 51% van die kiesers vroue. Daar is meer vroulike kiesers in ons land wat ouer is as 80 as wat daar vrouekiesers tussen die ouderdom van 18 en 19 jaar is.
1.1miljoen vroulike kiesers is tussen die ouderdom van 70 en 79. Cheryl is van mening dat die rol van die vroue in ons land een van die belangrikste is en dat elkeen se stem tel – sy glo hulle kan ’n merkwaardige verandering in die toekoms van ons kinders en kleinkinders maak.
Haar uitdaging aan almal is: “Doen elke dag een ding wat ’n verandering gaan maak. ’n Verandering vir jouself, jou mede-inwoner, ’n familielid of dalk vir daardie seun of dogter wat elke dag in ‘survival mode’ leef en net deur die dag wil kom. Suid Afrika kort nie net ystervroue soos Helen Suzman, Helen Zille en Thuli Madonsela nie. Elkeen van ons is een van daardie ystervroue – hetsy deur ‘n ma te wees; deur een van daardie lojale vrouekiesers te wees of net om elke dag met ’n positiewe gesindheid aan te pak. Ek daag u uit, wees die verskil. Ons het almal net vandag, so gaan reis, kuier, dans, partytjie, lag, lag harder en huil soms. Dit is tog alles wat ons vroue kreukel maar nie knak!”
Die dag is op roerende wyse afgesluit met ‘n gebed deur een van die inwoners van Jeugland, Helena Scholtz.
* Mnr. Nothnagel bedank graag die DA en verskeie plaaslike sakeondernemings wat die dag geborg het.



