HealthLifestyleLocal newsNationalNews

Kolon-ondersoeke: Lesers neem goeie raad ter harte

"Ongeveer 20% van die pasiënte wat danksy die berig gekom het, het wel poliepe in die kolon gehad, wat maklik en pynloos verwyder kon word. Een pasiënt van net 52 jaar oud, het ongelukkig te laat gekom vir die ondersoek en het alreeds kolonkanker gehad"

Retha Fitchat

Vaalweekblad het vroeër vanjaar berig dat sterftes weens kolonkanker tot 90% verminder kan word as ‘n kolonoskopie van die onderste maagdermkanaal betyds uitgevoer word. Omdat dié kanker pynloos kan voortwoeker, is min mense egter daarop ingestel om hulle betyds te laat ondersoek – totdat dit dalk te laat is.

Dit is egter verblydend dat baie inwoners van die Vaaldriehoek dr. Ben Rautenbach se waarskuwing in Vaalweekblad ernstig opgeneem het, en na plasing van die artikel wél ‘n kolonoskopie laat doen het. Dr. Rautenbach is ‘n semi-afgetrede spesialis-chirurg wat in sy kliniek vir kolon- en boonste maagdermkanaal-ondersoeke en prosedures in Wonderfontein, Sasolburg, praktiseer.

“Ongeveer 20% van die pasiënte wat danksy die berig gekom het, het wel poliepe in die kolon gehad, wat maklik en pynloos verwyder kon word. Die ontwikkeling van kanker kon sodoende voorkom word. Hierdie pasiënte sal jaarliks weer ‘n kolonoskopie ondergaan om die ontstaan van verdere poliepe vas te stel en te verwyder indien daar weer poliepe waargeneem word,” sê dr. Rautenbach.

“Een pasiënt van net 52 jaar oud, het ongelukkig te laat gekom vir die ondersoek en het alreeds kolonkanker gehad. Biopsies daarvan het die diagnose bevestig en hy is na ‘n chirurg verwys, wat hom moes opereer om ‘n deel van sy kolon te verwyder,” sê hy.

Dr. Rautenbach verduidelik dat ‘n poliep ‘n groeisel is wat met ‘n steeltjie aan die kolonslymvlies geanker is – soos ‘n sampioen wat op die grond groei. Indien dit groter as 3 cm word, begin die kanker op die punt daarvan ontwikkel.

“Hierdie poliepe veroorsaak geen simptome nie en mens is dus nie bewus daarvan dat iets verkeerd aan die ontwikkel is nie.” Na dekades in die mediese beroep is hy maar te bewus van die pyn en lyding wat met gevorderde kanker gepaard kan gaan. Deur voorkomend op te tree, kan pasiënte dié trauma gespaar word – om nie eers te praat van die hoë koste van gevorderde kankerbehandeling nie.

Hy beskou dit as sy lewenstaak om die voorkoms van kanker te verminder en wil die publiek en veral geneeshere weer eens bewus maak van die feit dat mense nie moet wag totdat simptome ontstaan voordat ‘n kolonoskopie gedoen word nie, want dan is dit gewoonlik reeds te laat.

Almal van 40 jaar en ouer behoort die ondersoek as voorkoming te laat doen. Indien daar niks gevind word nie, kan die kolonoskopie eers na 10 jaar weer gedoen word. Mense wat ‘n familielid het wat wel kolonkanker gehad het, moet die ondersoek selfs op ‘n jonger ouderdom as voorsorg laat doen.

Belangstellendes wat meer oor kolonkanker of kolonoskopie-ondersoeke wil uitvind, kan dr. Rautenbach en sy span by 081 357 7794 skakel.

Dr Ben Rautenbach

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button