LifestyleLocal newsNews

Gordon Caine groet Midvaal Hospitaal na 18 jaar van sukses

Gordon Caine groet Midvaal Private Hospitaal na 'n lang en gelukkige loopbaan

 

Retha Fitchat
VEREENIGING. – Mnr. Gordon Caine (67), wat einde Oktober aftree as uitvoerende bestuurshoof van die Midvaal Private Hospitaal in Drie Riviere, is ‘n man wat die afgelope 18 jaar daagliks aan ernstige lewe-en-dood situasies blootgestel word. Daarby is hy egter ook ‘n warm mens wat te midde van die erns, tyd maak om ligte oomblikke saam met sy personeel te geniet en deur die jare diep in hul harte ingekruip het.

Dít was duidelik tydens ‘n onlangse glansgeleentheid by die spoggerige Villa Anna Sophia Restaurant in Drie Riviere, waar die direksie en personeel van die Midvaal Private Hospitaal sowel as medici met wie hy gereeld saamgewerk het, amptelik afskeid van hom geneem het.

Skreeusnaakse staaltjies waarby mnr. Caine deur die jare betrokke was, het die gaste laat skater – soos toe hy almal verras het deur een jaar op Loslitdag in ‘n Batman-mondering te kom werk!

Dié boorling van Port Elizabeth het in 1954 saam met sy ouers na Vereeniging verhuis, waar hy aan Milton Primary School en HTS Vereeniging skoolgegaan het. Na voltooiing van sy diensplig in die Lugmag het hy na die Vaaldriehoek teruggekeer en ‘n kwalifikasie in rekeningkunde aan die destydse Vaaldriehoekse Technikon behaal.

Mnr. Caine het eers ‘n wye draai in verskillende poste by verskeie hospitale in die land gemaak voordat hy in 2001 die pos as Midvaal Hospitaal se uitvoerende bestuurshoof aanvaar het.

Buiten dié pos is hy tans ook nog hoofuitvoerende beampte van Taxco Properties, ‘n ander maatskappy wat deel van die Midvaal Private Hospitaalgroep orm.

Hy is veral trots daarop dat die Midvaal Private Hospitaal die afgelope drie jaar deur Discovery Health as een van Suid-Afrika se Top 20 hospitale aangewys is. Dié aanwysing word gedoen op grond van pasiënte se positiewe terugvoer.

Danksy die voortdurende groei in die grootte van die hospitaal het die Midvaal Private Hospitaal se bydrae tot die Vaaldriehoek se ekonomie en werkverskaffing in die afgelope jare ook aansienlik uitgebrei. Die hospitaal is ook dwarsdeur die jaar betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte.

“Terugskouend was die afgelope 18 jaar onvergeetlike, gelukkige jare vir my. Die personeel, aandeelhouers en mediese dokters het almal bygedra tot die groei en sukses van die hospitaal. Ek is baie gelukkig om my loopbaan op ‘n hoë noot te beëindig. Dit is my wens dat my opvolger dieselfde werkstevredenheid en sukses sal geniet as wat ek ervaar het,” sê hy.

* Mnr. Caine word opgevolg deur ‘n bekende in bestuurskringe in die Vaaldriehoek, mnr. André Joubert, wat voorheen onder andere sportbestuurder by die Noordwes-Universiteit; Vermaak- en Ontspanningsbestuurder by die Emerald Resort & Casino; algemene hotel- en verblyfbestuurder in die Kaap, en hospitaalbestuurder van die Clinix Health Care Group in Johannesburg was.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button