HealthLocal newsNews

Marius Dreyer weer tuis na hartaanval

“Ek mis die luisteraars en die musiek regtig baie. My hele lewe draai maar om musiek,” sê hy

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Marius Dreyer, bekende radio-omroeper by 90.6 FM Stereo, sterk tuis aan nadat hy op Sondag, 16 September, ‘n hartaanval by sy huis gehad het.

“Ek het die Sondagoggend om 03:00 wakker geword en vir my vrou Amanda gesê ek voel benoud.

“Toe ek teen 05:00 nog nie beter was nie, het sy my na Mediclinic Emfuleni geneem, waar mediese personeel vir my suurstof gegee het en x-strale van my longe geneem is. Vandaar af is ek deur my mediese fonds na Vaalpark Netcare Hospitaal verwys. Daar het hulle vasgestel dat ek ‘n hartprobleem het en ek is na Midvaal Hospitaal in Drie Riviere gestuur, waar ek deur uitstekende hartspesialiste behandel is,,” sê hy.

Nadat ‘n angiogram die volgende dag gedoen is, het hy Woensdag, 19 September, ‘n hartomleiding ondergaan.

Hy is Vrydag ontslaan en sterk nou tuis aan. “Amanda versorg my baie goed – die beste in die suidelike halfrond. Sonder haar ondersteuning sou ek dit nie kon maak nie,” sê Marius

Hoewel hy ‘n diabeet is, het hy nog nooit voorheen hartprobleme gehad nie.

“Ek het nog nie al my asem terug nie en is nog baie swak, maar ek begin reeds weer stadig stap.”

Hy hoop om teen die einde Oktober terug te wees in die tuig as aanbieder van 90.6 FM Stereo se ontbytprogram, wat hy reeds die afgelope 12 jaar behartig.

“Ek mis die luisteraars en die musiek regtig baie. My hele lewe draai maar om musiek,” sê hy.

Sy boodskap aan lesers en luisteraars is om hul gesondheid nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, om hul suikervlakke gereeld dop te hou en gereeld roetine mediese ondersoeke te laat doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button