Pa sê totsiens langs die pad na seun se ongeluk
VANDERBIJLPARK. - Hartseer tonele van 'n pa wat sy seun kom groet het, het hul afgespeel vanoggend op die N1 snelweg nadat 'n 40 jarige man tragies in 'n ongeluk dood is toe die voertuig waarmee hy en 'n werknemer gery het, agter teen 'n trok gebots het.
JANNIE DU PLESSIS – VAALWEEKBLAD
VANDERBIJLPARK. – Hartseer tonele van ‘n pa wat sy seun kom groet het, het hul afgespeel vanoggend op die N1 snelweg nadat ‘n 40 jarige man tragies in ‘n ongeluk dood is toe die voertuig waarmee hy en ‘n werknemer gery het, agter teen ‘n trok gebots het.
Shawn Fouché (40), eienaar van Electroshaw en bekende sakeman van Naboomspruit (Mookgophong) is vanoggend, Saterdag 20 Oktober, ongeveer 05:00 op slag dood toe hy en een van sy werkers, Henko Barnard, met ‘n Mercedes Vito in ‘n ongeluk betrokke was. Die ongeluk het sowat 4,5 km noord vanaf die motororhawe en Saloon 2000 op die Potchefstroom-pad oorbrug, op die N1 snelweg gebeur.
Volgens Henko het hulle ‘n werk in die Kaap gaan doen en is gistermiddag 16:00 uit die Kaap op pad terug Naboomspruit toe, toe die ongeluk gebeur het. Shawn is die eienaar van die besigheid. Shawn se Pa, Piet Fouché, het vanaf Germiston gehaas na die ongelukstoneel waar hy sy seun, wat met ‘n kombers toegemaak was, agter die stuur gevind waar hy vasgepen is. Piet het om die voertuig gedwaal en by tye sy hand op sy seun gaan lê en onbedaarlik gehuil. Shawn se swaer het aan Vaalweekblad gesê dat Electroshaw het in die laaste tyd goed gedoen.
Volgens Henko, wat ten tyde van die ongeluk geslaap het, kon hy egter niks onthou van die ongeluk nie. Henko het beserings aan die gesig opgedoen. ER24 paramediese personeel was op die toneel en het Shawn dood verklaar. Henko wou egter nie per ambulans hospitaal toe geneem word nie en is later deur familie na die hospitaal geneem.
Volgens die bestuurder van die trok, Steven Punzul, wat saam met sy seun in die trok was om voer by die De Deur vendusie te gaan verkoop, het hulle net die slag gehoor en het die trok heen en weer geswaai voor hull ‘n ent verder tot stilstand gekom het. “Die skade aan die trok kan reggemaak word maar die man het sy lewe verloor,” het Steven aan Vaalweekblad gesê.
Die Barrage polisie en speurders is tans nog op die toneel in afwagting van die forensiese deskundige wat van Johannesburg af kom. Die brandweer is ook op die toneel om later Shawn se lyk met hidroliese toerusting uit die voertuig te haal. Voorlopige bevindings is dat Shawn moontlik aan die slaap geraak het en na links van die pad afgedwaal het en die trok, wat in die linkerbaan was, teen die linker-agterkant getref het.
Volgens inligting laat Shawn sy vrou en twee kinders agter. Die saak word deur die Barrage polisie ondersoek.














