Helenor Dance Studio se groep blink uit by dansfees
Die groep het met vier silwer-, nege hoogsilwer- en vyf goue medaljes, sowel as vier diplomas en drie diploma-plusse weggestap
SASOLBURG. – Dansers van Helenor Dance Studio (HDS) het tydens die onlangse Sasolburgse Dance Festival, wat vanaf 25 tot 27 Oktober by die Etienne Rousseau Teater aangebied is, hul beste passies uitgehaal en met verskeie toekennings huis toe gegaan.
Die dansers het aan verskillende dansstyle soos klopdans, modern, kontemporêr en lyrical in groepdanse, duette en solo’s deelgeneem.
Die groep het met vier silwer-, nege hoogsilwer- en vyf goue medaljes, sowel as vier diplomas en drie diploma-plusse weggestap.
Solo-dansers wat goud ontvang het, is Zanri van Doorn, Janke Jacobs en Kate Colitz.
Volgens Helenor Esterhuizen, afrigter en self ‘n danser van HDS, is die dansateljee vanjaar 20 jaar oud en baie trots daarop om steeds items van baie hoë gehalte en uitstekende standaard en tegniek te lewer.



