NewsNews

Dood bring eerste skeiding in tweeling se 78 jaar

VANDERBIJLPARK. – ‘n Hoofstuk in Vanderbijlpark se sakegeskiedenis is Saterdag afgesluit met die dood van mnr. Dieter Sittig (78), een van die tweelingbroers van Twin Radio. Dieter is sowat 18 maande gelede met longkanker gediagnoseer. Hy het besluit om nie behandeling te ontvang nie en het nog tot twee weke gelede aktief gewerk totdat hy …

VANDERBIJLPARK. – ‘n Hoofstuk in Vanderbijlpark se sakegeskiedenis is Saterdag afgesluit met die dood van mnr. Dieter Sittig (78), een van die tweelingbroers van Twin Radio.
Dieter is sowat 18 maande gelede met longkanker gediagnoseer. Hy het besluit om nie behandeling te ontvang nie en het nog tot twee weke gelede aktief gewerk totdat hy skielik sieker geword het en in die hospitaal opgeneem moes word. Hy het Saterdag beswyk.
Dieter en sy tweelingbroer Eckart is op 14 Junie 1937 gebore en het in 1951, op 14-jarige ouderdom, saam met hul ouers uit Dresden, Duitsland, na Suid-Afrika gekom. Die tweeling het Twin Radio in 1964 in Vanderbijlpark geopen.“Net soos my pa, Eckart, het oom Dieter nooit amptelik afgetree nie. Ondanks sy siekte het hy steeds graag hard gewerk totdat hy ‘n paar weke gelede ‘n gesondheidsterugslag gehad het. Ek sal oom Dieter altyd onthou vir sy grappies. Saam met my pa het hy ‘n groot invloed op my lewe gehad en my baie van besigheid en verkope geleer,” sê Johan Sittig.Volgens mev. Susan Sittig, Eckart se vrou, was die tweelingbroers van jongs af onafskeidbaar. Buiten vir enkele aparte vakansies, was hulle nog nooit geskei nie, sê sy. “Dieter se dood is ‘n baie groot skok vir Eckart. Hulle het alles saamgedoen: saam gewerk, snoeker en tennis gespeel, saam wyn gedrink by die wynkring. Ons was selfs bure vir 27 jaar. Die tweeling is nou vir die eerste keer werklik geskei. Omdat hulle in hul jonger dae so baie na mekaar gelyk het, kon hulle destyds as Yskorwerknemers gereeld vir mekaar instaan want min mense kon hulle uitmekaar ken. In al die jare het ek hulle nie een maal sien rusie maak nie,” sê Susan. Die Sittig-broers het deur die jare bewondering afgedwing vir hul hardwerkendheid. Hul werksdag het van 06:30 in die oggend tot 18:00 in die aand gestrek.
Dieter word oorleef deur sy vrou, Hazel, en ‘n dogter, Linda. ‘n Gedenkdiens word vandag (2 September) om 14:00 vanuit die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid gehou.

Die Sittig-tweeling van Twin Radio, wyle Dieter (links agter) en Eckart (regs). Voor is Johan Sittig, Eckart se seun. Dié argieffoto is in 2014 geneem toe die onderneming sy 50ste verjaardag gevier het. Foto: Retha Fitchat
Die Sittig-tweeling van Twin Radio, wyle Dieter (links agter) en Eckart (regs). Voor is Johan Sittig, Eckart se seun. Dié argieffoto is in 2014 geneem toe die onderneming sy 50ste verjaardag gevier het. Foto: Retha Fitchat

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button