Voortrekkers uit Vaal help renostertjies red
VEREENIGING. - As deel van die Voortrekkers-beweging se projek “Renoster Red is Vet Pret” het spanne vanjaar met 1 750 renoster-spaarbussies ‘n volle R100 000 vir Care for Wild Rhino Sanctuary se renostertjies ingesamel
VEREENIGING. – As deel van die Voortrekkers-beweging se projek “Renoster Red is Vet Pret” het spanne vanjaar met 1 750 renoster-spaarbussies ‘n volle R100 000 vir Care for Wild Rhino Sanctuary se renostertjies ingesamel. Care for Wild is die renosterweeshuis van die Krugerwildtuin.
Die Voortrekker-wenspanne wat vanjaar die meeste geld ingesamel het, is die graad 4 Tinktinkies van Rietvallei, die graad 8 Springbokke van Vereeniging en die graad 2 Uile van Unika in Johannesburg. As deel van die Voortrekkers se diensprojek is Arthur, ‘n renostertjie van nege maande oud, vroeër die maand as ‘n Voortrekker ingelyf. Sy inlywingssertifikaat was ‘n afdruk van sy voetspoor. Arthur het selfs ‘n Voortrekkerbaadjie ontvang. Wanneer hy mylpale bereik gaan Arthur kentekens soos Veldbewustheid, Veldvernuf, Spoorsny en Selfbehoud op sy baadjie ontvang. So gaan sy grootword en heelword gemeet word, sê Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers.
“Die belofte wat nuwe Voortrekkers tydens inlywing aflê is ‘n diensbelofte. Vandag het ons, terwyl Arthur sy melkbottel drink, vir hom beloof dat ons Voortrekkerkinders vir hom en die ander renosterwesies lief sal wees, ons hulle sal ondersteun, ons nooit sal ophou om die natuur te bewaar nie en ons ander mense van hulle nood bewus sal maak. Hy is nou ‘n volwaardige Voortrekker van Laeveld Voortrekkers in Nelspruit. Hy sal soos ‘n erelid behandel word,” het Langner na die seremonie gesê.
“Ek het my verwonder hoe hy agter die kinders aanloop, toelaat dat hulle sy ore vryf en magie krap. Ek het gekyk hoe hy teen hulle skuur en sy kop op hulle skouers lê en besef elke weeskind, mens en dier, soek geborgenheid, stabiliteit, beskerming en opregte liefde.”
Die Vereenigingse Voortrekkers wat uitgeblink het in die insamelingspoging is Tiaan Smith, Henko Scheepers en Declan Oosthuizen (almal van Hoërskool Overvaal) en Henrikus Viljoen (Vereeniging Gimnasium), onder leiding van hul offisier, Louis Keyser, wat ook leier van die Vryheidsmonument Voortrekkers van Vereeniging is.
* Lees meer oor die projek in https://www.facebook.com/386349868166615/posts/1424958930972365/



