VANDERBIJLPARK. – Die vier verdagtes wat op 3 Augustus verlede jaar ‘n drankwinkel in die dorp beroof het en daarna vir Judy Pienaar(42)koelbloedig doodgeskiet het, bly steeds in aanhouding tot hul verhoor.
Die vier staan tereg op aanklagte van moord, gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die besit van ammunisie en verskeie ander aanklagte.
Die saak is na die Palm Ridge landdroshof oorgeplaas vir die verhoor wat vanaf 29 April tot 9 Mei sal duur.
Die staat, aangevoer deur staatsaanklaer Rucindi Myburgh, het verbete die vrylating van die vier beskuldigdes op borgtog beveg, al is die forensiese verslae van die CCTV materiaal en ballistiese toetse nog nie beskikbaar nie. Die prokureur vir die verdediging, Thomas Mahlobogoane, het die hof ter versagting met verskeie teorieë probeer oortuig dat sy kliënte op borgtog vrygelaat moet word.
Na byna drie maande is die drie beskuldigdes, Cebo Mngumi, Khumbulani Mahlinza, Mndeni Mabanga en Sibusiso Sibiya egter op 19 Desember 2018 deur landdros Kelaotsi borgtog geweier. Landros Keloatse het in sy borguitspraak gesê dat die vier nie kon bewys dat hulle vaste adresse het nie. Die feit dat ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie by hulle gevind is, en verskeie ander faktore, het daartoe bygedra dat hy die borgaansoek geweier het. Die vier is tydens hul borgverhoor beskou as ‘n hoë risiko vir ontsnapping en verskeie voorsorgmaatreëls is tydens hofverskynings en vervoer vanaf die Leeuhof-gevangenis, asook in en om die hofgebou getref. Snuffelhonde van die K9-eenheid het die plaaslike hofgebou gereeld voor die verskynings deursoek. Bomdreigemente en sangomas wat glo in die gebou rituele uitgevoer het, was waarskynlik die redes.




