NewsNews

Vyf jaar later met nuwe lewer

MEYERTON. – Dit is vir geen ouer lekker as sy kind siek is nie, maar om te hoor jou kind se kans op oorlewing is tussen drie en vyf jaar, is iets wat geen ouer wil hoor nie.

Vyf jaar gelede moes Shantique van de Reede (nou 9) se ouers, Gavin en Jackie, die einste woorde hoor, maar daar was ‘n effense liggie aan die einde van die tonnel. Indien hul dogtertjie, wat daardie tyd maar amper vier jaar oud was, ‘n leweroorplanting kry, is daar ‘n kans dat sy gesond sal word.
Shantique is met ‘n genetiese lewersiekte gebore. Sy het een dag in Mei 2013 skielik by die skool siek geword en groot hoeveelhede bloed opgebring. Haar ouers het haar dadelik hospitaal toe geneem en na verskeie toetse moes hulle hoor Shantique se lewe hang af van ‘n leweroorplanting. Die Van de Reede-gesin is verwys na ‘n groep gespesialiseerde dokters by die Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg en op 28 November 2013, is ‘n gedeelte van Jackie se lewer in Shantique oorgeplant.
Dit is nou vyf jaar later en dit gaan baie goed met Shantique.
“Ons probeer om haar so normaal as moontlik groot te maak. “Hoewel daar baie dinge is wat sy nie mag doen nie, wil ons nie hê sy moet voel sy is ‘anders’ nie. Sy is ‘n akademies presteerder by die Laerskool Republiek, sy speel hokkie en neem deel aan die skool se praataande. Sy het ook ‘n uitstekende verbeelding en het selfs al ‘n storieboek vir die skool geskryf,” sê Jackie.
Die gesin se grootste uitdaging tot dusver was toe Shantique sowat twee jaar gelede met tuberkulose gediagnoseer is. Dit was gelukkig in ‘n baie vroeë stadium en danksy die regte behandeling wat vir nege maande lank gevolg moes word, het sy ten volle herstel.
“Sy het voor en na die operasie ‘n veggees soos min gehad en het nog steeds. Ons volwassenes kan regtig by haar leer. Sy is sterk, baie vrygewig en al voel sy nie lekker nie, is sy vriendelik, ‘n regte inspirasie vir ander,” sê haar ouma Kim. Familie en vriende het op 1 Desember vir Shantique ‘n verrassingspartytjie gehou om haar vyf jaar herdenking na die oorplanting te vier. Dit was baie spesiaal omdat dit ook haar ma en pa se 15e liefdesherdenking was. Shantique moet nou elke dag vir die res van haar lewe medikasie drink om te voorkom dat haar liggaam nie die lewer verwerp nie, en sy moet ook elke drie maande die dokter besoek om seker te maak alles is nog reg.
“Ons is so dankbaar dat ons haar kan sien grootword en binnekort nog ‘n Kersfees met haar vier.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button