‘Wie steel my geld as ek elektrisiteit aankoop in Emfuleni?’
Het ander inwoners dieselfde ervaring as hulle krag koop?

Ingrid Mans van Vanderbijlpark skryf:
Ek is nou nie seker wie vir die slenter verantwoordelik is nie… Emfuleni-munisipaliteit of ‘n sekere Superette:
Ek het gister R500 se krag by die Superette gaan koop. Die man wat my gehelp het, het gesê die ‘masjien’ wys dat ek R510 moet betaal as ek R500 se krag koop. Na ‘n redekawel met hom gee ek hom maar R510.
Op die strokie wat ek van hom gekry het, wys dit toe dat ek R500 se krag gekoop het. Ek het weer met hom probeer praat oor die ekstra R10 maar hy hou vol dat die ‘masjien’ R510 vereis as ek R500 se krag koop.
My vraag is: wie steel my R10? En gebeur dit ook met ander mense wanneer hulle krag aankoop?
(Die naam van die Superette is aan Vaalweekblad bekend, maar word weerhou totdat ons die saak behoorlik kon ondersoek en hul kommentaar kon kry – Vaalweekbladspan).



