LifestyleLocal newsNews

Voeding- en hulpskema onder groot druk

Die Andreasprojek, wat geadministreer word deur die NG Kerk Vanderbijlpark-Suid, en waarby verskeie ander gemeentes en instansies ook betrokke is, is tans onder druk om in mense se onderskeie behoeftes te voorsien.

 
VANDERBIJLPARK. – Die Andreasprojek, wat geadministreer word deur die NG Kerk Vanderbijlpark-Suid, en waarby verskeie ander gemeentes en instansies ook betrokke is, is tans onder druk om in mense se onderskeie behoeftes te voorsien.

Die projek, voorheen bekend as die “Kospakkieprojek”, help reeds vir 16 jaar mense wat in nood is.

Verskeie vorme van hulp, soos berading deur opgeleide maatskaplike werkers, soek van werk, voorsiening van klere en noodsaaklike huishoudelike items, vervoer, reël van mediese dienste en talle ander, word aangebied.

Die grootste afdeling van die projek is egter die voorsiening van kospakkies aan hulpbehoewende mense. ‘n Paar jaar gelede was die administreerders en medewerkers in staat om maandeliks tot 200 kospakkies te kon uitdeel. Tans kan hulle egter net 58 kospakkies uitdeel.

“Met groot hartseer moet ons met elke kospakkiedag ʼn hele klomp honger mense wegwys omdat daar net nie genoeg kos vir almal is nie.

“Behalwe dat die fondse al minder word, beleef ons hoe die nood in Vanderbijlpark weer al hoe groter word,” sê die organiseerders in ‘n persverklaring.

Die waarde van die kospakkies is soos volg:

• Vir ʼn gesin van 1 tot 2 persone kos dit R380.

• Vir ‘n gesin van 3 tot 4 persone kos dit R460.

• Vir ʼn gesin van 5 en meer kos dit R540.

Die samestelling van die kospakkie voorsien net die basiese benodigdhede om vir ʼn maand te kan oorleef.

Sowat 12 mense, elk met verskillende verantwoordelikhede, is by die projek betrokke. Elke tweede Woensdag van die maand vind die uitdeel van die kospakkies, pastorale gesprekke en ʼn erediens by die NG Kerk Vanderbijlpark-Suid plaas.

Belangstellendes wat graag wil help om die projek uit te brei sodat daar in meer mense se behoeftes voorsien kan word, kan op een van die volgende maniere betrokke raak:

• Finansiële bydrae.

• Die borg van een of meer kospakkies maandeliks.

• Skenking van kos en ander produkte soos toiletbenodigdhede.

• Skenking van klere.

• Hulp met die aankoop van die kos op die Dinsdag voor die kospakkiedag.

• Hulp met die organisering, administrasie en berading op kospakkiedag.

• Maak van toebroodjies en ander kos wat op kospakkiedag uitgedeel word.

Helpers wat graag op een van bogenoemde maniere betrokke wil raak, kan gerus vir Danie de Villiers (projek-organiseerder) of ds. Tiaan Mostert (predikant betrokke by die projek) skakel.

Meer besonderhede is beskikbaar by Danie (082 806 7035) of Tiaan (082 838 8526).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button