Moedelose Redan-inwoners grou slote namens ELM om kragprobleme te troef
'Die gebied se krag gaan minstens twee keer per week af, dan bly dit af met enigiets van twee ure tot vyf dae' - Charl van der Westhuizen (VF Plus)
MIDVAAL. – Moedelose Redan-inwoners grou self slote om kragprobleme te troef.
Charl van der Westhuizen, ‘n bekende in politieke kringe, vertel hier van die stryd wat die inwoners van Redan teen skokkende swak dienslewering voer:
Redan se kragprobleme is verby banaal, byna soos iets uit ‘n rillerfliek. Ons krag gaan minstens twee keer per week af, dan bly dit af met enigiets van twee ure tot vier dae – eerlik. Dit was die derde feesgety dat ons of oor Kersfees of oor Ou/Nuwejaar vir drie dae of langer sonder krag gelaat was. Wat hierdie jaar so uitsonderlik gemaak het is dat Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) se tegnici daarop aangedring het dat Redan se inwoners self die slote en gate by die paal by Arcon Park grou alvorens hulle bereid was om die stuk kabel te vervang en te las. En Redan se inwoners HET gegrawe en gegrawe, in gietende reën. Daar was selfs dames betrokke. Het ons inwoners nie ingespring en gegrawe nie was ons bes moontlik steeds sonder krag.
Maar steeds hou die gereelde kragonderbrekings nie op nie. In reënweer of sonskyn, dit gaan af en BLY af. Dan is dit eers ‘n gemene en uiters vernederende oorlogvoering alvorens die kragtoevoer herstel word. Eskom trek bloot skouers op as dit ‘n “ELM-probleem” is. “Protokol” verhoed hulle dan glo om dit aan te skakel.
Dis nog ‘n banaliteit: Redan is die weeskind van ELM, dis asof niemand vir ons verantwoordelikheid wil aanvaar of omgee nie – en ons word in die proses baie sleg behandel. Hier is geen dienslewering nie. Die banaliteit: ‘n gedeelte van ons elektriese infrastruktuur is Eskom se verantwoordelikheid en die ander gedeelte is ELM se verantwoordelikheid. Gaan die krag af, moet daar eers ondersoek ingestel en warm pap gegooi word om te bepaal wie se verantwoordelikheid dit is. As dit Eskom is, kom dit normaalweg dieselfde dag weer aan, behalwe as dit saans afgaan, dan kom dit eers die volgende dag aan. As dit ELM se verantwoordelikheid is, is dit NAG, dan moet daar eers geskel, gevloek en gedreig word en as ons gelukkig is, word ons so twee tot vier dae later weer aangeskakel.
Dit terwyl ons dienste (elektrisiteit EN water) voorafbetaald is. Daar is geen inwoner van Redan se 162 huise wat een sent of rand aan water of krag kan skuld nie, want as jy nie koop nie, dan het jy dit nie, so eenvoudig soos dit. Ons betaal ‘n maandelikse heffing (levy) van R207 wat van ons voorafbetaalde kragbokse verhaal word. Die eerste krag wat ons elke maand koop, word gevat vir heffing. Die heffing dek glo vullisverwydering (ELM) wat, as ons gelukkig is, een of dalk twee Vrydae per maand geskied, straatligte (wat al jare nie werk nie – net ‘n paar werk), tuine en parke ensovoorts. Dit is absoluut drakonies.
Kla mens of dien jy klagtes in word jy bloot in kennis gestel dat niemand jou hier hou teen jou sin nie. Ons Redaniete woon hier vir ‘n rede, ons kan nie dorpshuise bekostig nie – meeste mense hier is bejaardes of bloot arm mense – van alle rasse. Wat my betref is die hele Redan situasie menseregte-vergrype.
Ons het nou die fase bereik waar die inwoners (lees belastingbetalers) se bekers (van frustrasie) oorloop, mense het genoeg gehad. Bejaardes soos tannie Joy Gangel moet kort-kort deur die ambulans gehaal word want sonder krag werk haar permanente suurstof nie – daar is vele ander soos sy. Hier is babas, uiters siek mense, bejaardes, enkelinge – dis onmenslik.
Ek gaan ondanks moeilike omstandighede aanhou veg. Dit gaan hier oor die gebreekte siele van Redan, ‘n uitgemergelde gemeenskap wat emosioneel moeg en gedreineer is. – Charl van der Westhuizen






