Bybel in hand en niks anders na brand
VANDERBIJLPARK. – Terwyl twee honde verward in ‘n erf in Davystraat rondgehardloop het, is ‘n hele leeftyd van ‘n ma en haar seun in ‘n brand verwoes. Trudie Marshall (58) en haar seun Werner (28), het eers twee ure later gehoor dat hulle huis in vlamme was. Dit was vroegoggend Woensdag 2 September toe die …
VANDERBIJLPARK. – Terwyl twee honde verward in ‘n erf in Davystraat rondgehardloop het, is ‘n hele leeftyd van ‘n ma en haar seun in ‘n brand verwoes.
Trudie Marshall (58) en haar seun Werner (28), het eers twee ure later gehoor dat hulle huis in vlamme was. Dit was vroegoggend Woensdag 2 September toe die ma en seun net na 06:00 hulle huis verlaat het om hul dagtaak by kontrakteurs by ArcerlorMittal te gaan verrig, minwetend dat hulle gaan terugkeer en alles wat hulle besit in ‘n brand verloor het. Hul twee honde is deur bure en personeel van ER24 na die buurvrou geneem vir veiligheid. Die oorsaak van die brand was waarskynlik ‘n foutiewe elektriese prop in Trudie se kamer. Omstanders het op die toneel aan Vaalweekblad vertel dat daar in ‘n stadium ook ‘n harde slag was.
Niks in die skakelhuis kon gered word nie en alles is in die brand verwoes, behalwe Trudie se Bybel. Nie eens een van die blaaie het gebrand nie en dit nadat die vertrek heeltemal in die brand verwoes is.
“Elke gebeurtenis in ‘n mens se lewe het ‘n doel en al besef mense nie dat versekering ‘n noodsaaklikheid is nie, het ons en ander iets hieruit geleer,” vertel Trudie. Trudie sê haar huisstruktuur was darem verseker, maar nie die huisinhoud nie. Sy het soveel van haar persoonlike besittings verloor en wat die seerste maak is dat al haar foto’s van haar kinders, kleinkinders, familie en gebeurtenisse verlore is. Werner vertel dat hy eersdaags aan die SA potspelkampioenskappe deelneem en sy potspeltafel en stokke is alles in die brand verwoes. Hy spook nog om nou fondse in te samel om aan die kampioenskappe te kan deelneem. Na die voorval het Trudie se suster Suzette Jackson en ‘n vriendin van haar suster Ina Jordaan, saam met Community Support Forum (CSF) van Vanderbijlpark pleidooie uitgestuur vir hulp aan die ma en seun.
Volgens Trudie het die gemeenskap hulle baie gehelp en ondersteun. “Ek wil net baie dankie sê aan almal wat ons bygestaan het met kos en klere en ons bemoedig het na die brand,” sê Trudie. Trudie en Werner woon tans by haar suster totdat die versekering uitsluitsel sal gee oor die geboue. “Daarna sal ons maar sien hoe ons ons bestting gaan vervang,” sê Trudie. Enige iemand wat veral kos en kontantbydraes wil lewer, kan Ina by 082 653 1421 kontak.




