Dié 15 skole se onderhoud moet ook baie dringend aandag kry
Hierdie 15 skole in die Vaaldriehoek moet onmiddellik aandag kry om verdere tragedies te voorkom, sê Vryheidsfront Plus

Philip van Staden, Vryheidsfront Plus-lid van die Provinsiale Wetgewer in Gauteng, sê in ‘n mediaverklaring dat die Gautengse regering dringend aandag sal moet gee aan minstens vyftien ander skole in die suide van Gauteng, om te voorkom dat daar nog ‘n tragedie plaasvind soos wat verlede Vrydag by die Hoërskool Driehoek gebeur het.
Die VF Plus het Dinsdag versoek dat die departemente van infrastruktuur-ontwikkeling en onderwys in Gauteng, strukturele ingenieurs na alle skole in die provinsie moet stuur om seker te maak dat skole veilig is vir leerlinge en onderwysers.
Die VF Plus sê dit het sedert Vrydag se fratsongeluk by HS Driehoek onder die party se aandag gekom dat daar nog skole in die suide van Gauteng is wat ‘n soortgelyke ramp in die gesig staar weens infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie. Die VF Plus dring daarop aan dat daar op ‘n uiters dringende basis ingenieurs ontplooi word na die volgende skole:
1. Hoërskool Overvaal
2. Laerskool Rissiville
3. Hoërskool Vanderbijlpark
4. Laerskool Frikkie Meyer
5. Laerskool Totius
6. Hoërskool Die Anker
7. Pinedene Primary School
8. Laerskool Eligwa
9. Hendrik Vanderbijl Primary School
10. Laerskool DF Malherbe
11. Hoërskool Transvalia
12. Hoërskool Drie Riviere
13. Hoërskool Suncrest
14. Vaal High
15. Laerskool Handhawer
Hoërskool Roodepoort is nie in die Vaaldriehoek nie, maar is ook genoem as een van die skole wat dringend aandag benodig.
Die VF Plus het hierdie inligting bekom van ‘n bron wat al meer as vyftien jaar betrokke is by skole en ook op skoolbeheerliggame gedien het.
“Die VF Plus vind hierdie jongste inligting kommerwekkend en dring daarop aan dat die premier van Gauteng, David Makhura, dadelik ingryp en werk maak daarvan om te sorg dat strukturele ingenieurs dadelik ontplooi word regdeur die hele provinsie,” sê Van Staden.
Die VF Plus het die inligting reeds aan die premier, die LUR vir infrastruktuur ontwikkeling, Jacob Mamabolo en die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi gestuur. Die VF Plus is tans besig om opgedateerde klagtes en foto’s van hierdie geboue bymekaar te maak.
“Ouers, kinders en onderwysers in hierdie betrokke skole word versoek om nie paniekerig op te tree nie, maar om die VF Plus te help om hierdie saak daadwerklik aan te spreek. Enigiemand wat nog inligting rondom skole het, kan dit gerus met vrymoedigheid aan die VF Plus per e-pos stuur na help@vfplus.org.za,” sê Van Staden.




