[OPDATERING] 57-Jarige padbedelaar beland onder trok se wiele
57-Jarige padbedelaar beland onder trok se wiele
Jannie du Plessis – Vaalweekblad
VANDERBIJLPARK. – ‘n Songebrande gesiggie wat baie motoriste gereeld gesien het by die kruising van die R42 en R57 (Kruising van die dood) op die Barrageweg, gaan gemis word nadat diè padbedelaar vanmiddag onder ‘n trok se wiele beland het.
Die 57 jarige man, wie se naam bekend is aan Vaalweekblad, het ongeveer 11:40 vanoggend Woensdag 13 Februarie, onder die trok se wiele beland nadat hy heelwaarskynlik sy balans verloor het. Vaalweekblad gaan in dié stadium nie sy naam bekend maak alvorens enige familie of vriende vorendag gekom het nie. Hy was egter op slag dood en Netcare 911 het hom op die toneel dood verklaar.
Eers teen 16:00 is sy liggaam met hidroliese toerusting onder die trok se wiele verwyder deur Emfuleni Brandweer. Daar moes eers gewag word vir die hewige stortbui wat die planne gekortwiek het. Brandweermanne het daarna in ‘n stroom water die liggaam onder die wiele uitgehaal met ‘n hidroliese domkrag. Die trokdrywer kon egter nie die trok beweeg nie aangesien die liggaam tussen die wiele gelê het. Die trokdrywer het aan Vaalweekblad gesê hy het die man gesien in sy tru-spieël voor die wiel inval en het dadelik gestop, maar dit was te laat.
Verkeer was vir meer as vier ure ontwrig en die hele kruising was gesluit aangesien die toneel baie grafies was. Manne van Basil Read was die hele tyd op die toneel en het van hulle verkeerskeëls gebruik gemaak om die paaie toe te maak. Die CW6 buurtwag was ook op die toneel om die verkeer te reguleer en later het Emfuleni verkeer en die polisie kom help .
Daar was nog ‘n man saam met die oorledene maar het ná die ongeluk van die toneel af weggehardloop. Die Polisie op Vanderbijlpark versoek enige naasbestaandes of vriende van die oorledene om met hulle in verbinding te tree. Forensies deskundiges was op die toneel en die saak word ondersoek.
VIDEO EN FOTOS – JANNIE DU PLESSIS














