Gerug oor wrede moord nog onbevestig
WALKERVILLE. – Is ‘n pa en seun van Walkerville op Saterdagoggend 5 September wreed deur aanvallers op hul hoewe vermoor, of is dit net ‘n onsmaaklike leuen wat versprei word om inwoners onnodig beangs te maak? Dit is die vraag wat Vaalweekblad se verslaggewers onsself afvra nadat ons verlede week deur inwoners oor dié “skokkende …

WALKERVILLE. – Is ‘n pa en seun van Walkerville op Saterdagoggend 5 September wreed deur aanvallers op hul hoewe vermoor, of is dit net ‘n onsmaaklike leuen wat versprei word om inwoners onnodig beangs te maak?
Dit is die vraag wat Vaalweekblad se verslaggewers onsself afvra nadat ons verlede week deur inwoners oor dié “skokkende moord” ingelig is.
Volgens gerugte het die moord op ‘n kleinhoewe in Boundaryweg op die Walkers Fruit Farms kleinhoewes plaasgevind. Die beweerde slagoffers se buurman het aan Vaalweekblad bevestig dat die pa, glo ’n mnr. Barnard, met ‘n pyp doodgeslaan is terwyl die seun verwurg en sy maag oopgesny is. Mnr. Barnard se vrou, wat glo by die plaaslike vlooimark was toe die moorde gepleeg is, het na bewering op die twee se lyke afgekom toe sy teruggekeer het huis toe.
Die aanval was glo tussen 05:45 en 07:20 die oggend. Geld uit ‘n kluis en vuurwapens is glo in die rooftog gebuit.
Hoewel die beweerde slagoffers se buurman die voorval aan Vaalweekblad bevestig het, weet die polisie in De Deur, die nooddienste in Meyerton en die plaaslike polisiëringforum egter niks van so ’n voorval nie. Die buurman het sedert sy vorige gesprek met Vaalweekblad nog nie weer sy foon geantwoord nie en die vrou van die beweerde slagoffer kon tot dusver ook nog nie deur Vaalweekblad opgespoor word nie.
Enigiemand wat bewese feite oor die voorval het, word versoek om Vaalweekblad se misdaadverslaggewer, Jannie du Plessis, by 082 653 2273 te skakel.



