NWU-alumni trek saam vir jaarlikse sakeontbyt
Die jaarlikse Alumni-Sakeontbyt van die Noordwes-Universiteit (NWU) vind op 8 Maart van 08:00 tot 11:00 plaas.
VANDERBIJLPARK. – Die jaarlikse Alumni-Sakeontbyt van die Noordwes-Universiteit (NWU) vind op 8 Maart van 08:00 tot 11:00 plaas.
Hierdie jaarlikse geleentheid bring lede van die NWU-alumnivereniging, akademici, sakelui en gemeenskapslede byeen om skouers te skuur en kwessies soos die Staatsrede en die nasionale begrotingstoespraak te beredeneer.
‘n Paneel van kenners sal ‘n bespreking oor die manier waarop hierdie kwessies die land op ekonomiese en politieke vlak beïnvloed, lei.
Volgens Zanele Ngobese, alumni-koördineerder op die NWU-kampus in Vanderbijlpark, gee die geleentheid gehoor aan die oproep van president Cyril Ramaphosa vir gemeenskappe om saam te kom en as ‘n eenheid oplossings vir alledaagse probleme soos werkloosheid, dienslewering, behuising, geslagsgebaseerde geweld en grondonteiening, te vind.
“As ‘n universiteit wil ons ‘n deel van die oplossing wees. Deur geleenthede soos hierdie poog ons om ‘n platform te skep waar konstruktiewe dialoog tussen akademici en die openbare- en privaatsektore kan plaasvind.
“Ons alumnigemeenskap verteenwoordig verder ‘n dinamiese groep denkers met jare se ervaring en innoverende denke wat ons in staat sal stel om met tasbare oplossings, wat ‘n positiewe bydrae tot die verbetering van die sosio-ekonomiese toestande in ons land kan lewer, vorendag te kom,” sê Zanele.
Die doel van die paneelbespreking is om unieke sienings oor sake en politiek, veral inaggenome dat Suid-Afrikaners gedurende 2019 weer na die stembus sal optrek om ‘n nuwe Nasionale Vergadering en nuwe provinsiale strukture te verkies.
Alle sakelui en die publiek is welkom om die ontbyt by te woon.
* Kontak Zanele per e-pos by zanele.ngobese@nwu.ac.za of skakel haar by (016) 910 3250 vir meer inligting oor die koste en om te bespreek.



