Editor's choiceLifestyleLocal newsNationalNews

Hooflanddros groet na roemryke loopbaan

"Alles moet baie fyn gesif en oorweeg word. Jy moet ‘common sense’ hê maar jy leer dit mettertyd aan. As mens die regsreëls ken, kom die besluite makliker"

 
VANDERBIJLPARK. – Op 31 Januarie vanjaar het Chris Allers sy toga as hooflanddros van Vanderbijlpark vir die laaste keer opgehang. Die laaste hoofstuk van sy roemryke loopbaan van 43 jaar (waarvan 35 jaar as landdros) in die Departement van Justisie.

Nou lê ‘n rustiger fase van sy lewe voor en hy beplan om dit met net soveel passie te geniet.

Chris Allers is in 1958 in Lydenburg, Mpumalanga gebore. Sy kinderjare as plaaskind was besonder gelukkig. Leergierig en van nature gedissiplineerd het hy die akademie geniet, sowel as om aan naellope en later middelafstande en landloop deel te neem. In later jare sou hy ná die ouderdom van 40 die Comrades vier keer suksesvol aflê. Daarby is hy die houer van twee Bill Rowan-medaljes wat deelnemers ontvang as hulle die wedloop in minder as 9 ure voltooi!

Hoewel hy daarvan gedroom het om na matriek medies te gaan studeer, was geld skraps. ‘n Welkome akademiese beurs van Justisie het sy loopbaanplanne ‘n heel nuwe koers laat inslaan. Met sy liefde vir tale en geskiedenis en sy behoefte om altyd na die waarheid te soek, was dit ‘n loopbaan wat hom soos ‘n handskoen gepas het.

Nadat hy die graad B.Juris aan die destydse PU vir CHO cum laude geslaag het, het hy sy diensplig by Militêre Intelligensie gedoen. “’n Baie goeie tyd as ek nou daarna terugkyk,” sê hy. “My dienspligjare het my geleer dat ‘n mens mense nodig het. Jy bereik minder as jy dinge in isolasie probeer doen.”

In 1981 het hy diens in die Vaaldriehoek aanvaar, in 1983 sy LLB-graad behaal, in 1984 as advokaat toegelaat en op 1 September 1984 het hy sy taak as landdros in Vanderbijlpark/Sebokeng op die baie jong ouderdom van 26 jaar opgeneem.

Sy bekwaamheid het nie ongesiens verbygegaan nie en hy is in 1990 as een van net vier regsgeleerdes in die land, na Pretoria gesekondeer om vir ‘n jaar navorsing vir die Regskommissie te doen. Die kommissie moes in opdrag van FW de Klerk grondwetlike modelle ondersoek. “Daardie jaar het my as mens en as regsgeleerde so baie verryk. Ek moes navorsing doen oor menseregte en het die agtergrond van ons politiek en die kompleksiteit en dinamika daarvan, begin verstaan,” sê hy. In 1999 is hy bevorder tot kantoorhoof by Justisie in Vanderbijlpark.

As plaaskind wou hy nooit by wees as daar geslag is nie maar het wel gehelp met die verwerking van die vleis. Hoewel hy dit tot vandag toe geniet om in die bos en jagveld te stap, laat hy die skoot eerder aan sy seun en jagmaats oor. Maar hoe hanteer ‘n landdros met ‘n hart vol omgee vir mens en dier dan ‘n beroep waar jy daagliks ingrypende besluite oor mense se lewens moes neem?

“Ek het baie gebid. Elke keer as ek die trappies na die regbank opgestap het, het ek gevra vir kalmte en Goddelike leiding. Daar was dae wat ek geworstel het oor ‘n skuldigbevinding en vonnis, maar dit is ook ‘n goeie ding. ‘n Mens is nie ‘n masjien nie. Alles moet baie fyn gesif en oorweeg word. Jy moet ‘common sense’ hê maar jy leer dit mettertyd aan. As mens die regsreëls ken, kom die besluite makliker. Die gemeenskap verwag van ‘n landdros om ‘n gepaste vonnis vir ‘n misdadiger op te lê. Aan die ander kant moet ‘n landdros ook onthou dat jy hier met ‘n méns te doen het.” Soms was dit maklik om ‘n swaar vonnis op te lê, soos die keer toe hy ‘n groep rowers (op meerdere aanklagte) tot meer as 90 jaar tronkstraf moes vonnis.

Allers het baie hoop vir Suid-Afrika se regstelsel. “Die nuwe generasie landdroste het die Grondwet om aan vas te hou. Dit is so ‘n bemagtigende instrument. As landdroste dit uitleef, kan dit net goed gaan,” sê hy.

Vir die land se politiek het hy ook hoop “…maar ons praat nog te veel oor en van mekaar en te min mét mekaar. En daarin is ons uitdaging – of eerder verantwoordelikheid, om juis op persoonlike vlak in ons alledaagse omgang na mekaar uit te reik en vertroue en geloofwaardigheid te bou,” is sy mening.

Te midde van die erns in ‘n hofsaal was daar darem ook ligter oomblikke wat hom altyd sal bybly, soos die dag toe hy tydens ‘n hofsaak op die agterpote van sy stoel gery het. Die volgende oomblik het die stoel met hom agteroor geslaan. “Terwyl ek daar gelê het, was daar doodse stilte in die hof. Ek het maar stilletjies uitgekruip maar toe die mense in die hofsaal my sien uitkom, het almal uitgebars van die lag. Ek moes maar saam lag,” vertel hy.

Hy en sy vrou, Elsa, ‘n onderwyseres, het ‘n seun en twee dogters en vind rus en vrede op hul kleinhoewe in Midvaal. Hulle is ook reeds grootouers van vier kleinkinders wat diep in hul harte sit. “Dis ‘n stuk genade. Wat ‘n genade!” sê dié wyse oupa.

‘n Spesiale erewag voor die Vanderbijlparkse landdroshof deur kollegas en vriende op hooflanddros Chris Allers se laaste werksdag. Foto: Henk Scheepers

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button