Editor's choiceLifestyleLocal newsNationalNews

‘Zak se kruising’ is beveilig om verdere sterftes te beperk

Een van die opspraakwekkendste ongelukke van die dekade het op 30 Maart 2012 hier gebeur en die lewe van die geliefde sanger en storieverteller, Zak van Niekerk, geëis.

 

Dié berig het in Vaalweekblad van 27 Maart 2019 se 55 Jaar Gedenkbylae verskyn. Hou Vaalweekblad dop vir Deel 2 van die Gedenkbylae, wat later hierdie maand verskyn.
Met die koms van groot nywerhede na die Vaaldriehoek, het hier ook ‘n netwerk van paaie ontstaan wat deur ‘n toenemende getal passasiersvoertuie en swaarvoertuie gebruik word.

Ongelukkig het botsings deur die jare ook toegeneem en sommige van die Vaaldriehoek se paaie is vandag berug as hoëgevaarsones wat reeds baie lewens geëis het.

Een daarvan is die R59-snelweg se kruising met DF Malanweg en die Wonderfonteinpad in Sasolburg waar menige tragedies al afgespeel het.

Een van die opspraakwekkendste ongelukke van die dekade het op 30 Maart 2012 hier gebeur en die lewe van die geliefde sanger en storieverteller, Zak van Niekerk, geëis. Sy vriend, Johan Nortjé, wat saam in die voertuig was, het ernstige hoofbeserings opgedoen, maar het oorleef.

 

Na Zak se noodlottige ongeluk het die publiek meer as ooit tevore gepleit dat dié ongeluksone beveilig moes word.

Sasol, in samewerking met die Metsimaholo- en Vrystaatse provinsiale regering, het daardie jaar begin met die opgradering van die kruising, wat in 2014 voltooi is. Vaalweekblad het destyds vasgestel dat daar tussen 2008 en 2014 nie minder as 108 voertuie in 55 ongelukke by dié kruising betrokke was. In dié ongelukke het 56 mense beserings opgedoen en 18 gesterf.

‘n Groot bydraende faktor tot die botsing gevaar is die hoë daaglikse verkeersvolume. Die getal voertuie wat deur die kruising beweeg, is gemiddeld 12 815 per dag, waarvan ‘n derde swaarvoertuie is. Sasol se beveiliging van die kruising het ingesluit dat ‘n uitgangsbaan (“slip lane”) gebou is vir voertuie wat van Vereeniging se kant af op die R59 ry en in DF Malan wil afdraai.

Die verandering aan die kruising het dit ook makliker gemaak vir voertuigbestuurders wat uit DF Malan op die R59 wil draai, om aankomende verkeer betyds te sien. ‘n Versperringseiland moes ook tussen die uitgangsbaan en die R59 gebou word om stilstaande verkeer in DF Malan te beskerm teen aankomende trokke en voertuie op die R59.

Ambulansdienste rapporteer dat daar sedert die beveiliging ‘n merkbare afname in die getal botsings is, maar dat hulle steeds drie tot vier keer per maand ontbied word om bystand op ongelukstonele by die kruising te verleen.

Danksy die beveiliging is dit nou gewoonlik laerspoed-botsings met minder lewensverlies.

 

Sonja en seuns vind weer geluk na Zak se dood

Op 30 Maart vanjaar was dit presies sewe jaar sedert daardie noodlotsdag in 2012 toe Zak van Niekerk op die R59-kruising in Sasolburg gesterf het.

Die land was in rou oor dié gewilde sanger en storieverteller uit die Noordwes-Kaap. Almal se harte het uitgegaan na Sonja, Zak se jong weduwee en ma van hul twee seuns, Jano (toe 2 jaar – presies 22 maande en 2 dae oud) en Zian (toe slegs 6 weke en 6 dae).

Zak sou daardie week sy derde album en wynreeks by Vereeniging Barnyard bekendstel. Hy en ‘n vriend, Johan Nortjé, was juis omstreeks 16:00 op pad na Vereeniging om seker te maak die reëlings loop reg. Sonja en die seuntjies sou saam in die voertuig wees, was dit nie vir haar besluit om eers saam met ‘n vriendin na dié se huis in Vanderbijlpark te ry nie.

Op pad na Vereeniging is die Mercedes Vito-bussie waarin Zak en Johan gery het, deur die Audi van mnr. Basie Motloung, ‘n voorraadbestuurder van die Metsimaholo-munisipaliteit, getref. Zak het op die toneel gesterf en Johan het ernstige hoofbeserings opgedoen. Johan se toestand was bedenklik maar hy is deurgehaal, hoewel hy tot vandag toe nagevolge oorgehou het. Mnr. Motloung is net lig beseer.

Sonja was verpletter deur die nuus. “Zak het altyd ‘n voorgevoel gehad dat hy nie oud sou word nie,” sê Sonja.

“Al was hy so vol grappies en lief daarvoor om mense om hom te hê, het hy ook ‘n stil, diep kant gehad. Soms, wanneer hy na sy gunsteling Ierse volksmusiek of klassieke Barok geluister het, het ek geweet om hom ‘n tydjie alleen te los met sy eie gedagtes,” sê sy.

Die hof het na jare se uitstelle bevind dat mnr. Motloung nie vir die botsing verantwoordelik was nie, maar hy is wel aan ‘n spoedoortreding skuldig bevind. Hy het tydens die botsing 146 km/h in ‘n 80 km/h sone gery.

“Ek het berusting gevind en ek verduidelik dit ook so aan die seuns: Mnr. Motloung is ook pa van ‘n gesin en het nie met opset teen Zak se bussie gebots nie. Ek het vrede gemaak met wat gebeur het.”

‘n Verdere hartseer uitvloeisel van Zak se dood was dat Sonja se Ouma Lina, by wie sy grootgeword het, die volgende dag ‘n ernstige beroerte weens die skok gehad het. “Sy was baie lief vir Zak. Sy het na die beroerte nog ses jaar gelewe en was ‘n ware steunpilaar vir my,” sê Sonja.

Foto bo: Een van die laaste foto’s van Zak saam met Sonja en die seuns, Jano (destyds 2 jaar) en Zian (6 weke).

Die seuntjies het intussen mooi opgeskote geraak. Jano is nou 9 en Zian 7. Sy het hulle van kleins af van Zak vertel en hulle na sy musiek laat luister en na sy video’s laat kyk.

“In April 2015 het die seuns begin vra of ek nie weer ‘n pappa vir hulle wou soek nie. Ek het gesê dan moet hulle maar begin bid en presies sê hoe die nuwe pappa moes wees.

“Hulle het gebid vir ‘n pappa wat vir hulle baie lief moes wees, baie met hulle moes speel en ook vir my lief moes wees.”

Sonja sê sy het in die stilligheid saam begin bid vir ‘n nuwe maat.

Die dag toe Johan Terblanché, ‘n sakeman en kleinneef van Zak se goeie ou vriend Kobus de Kok, in Oktober 2015 tydens ‘n boekbekendstelling by haar huis instap, het alles skielik net in plek geval. ‘n Diep liefde het tussen Johan en Sonja begin groei en hy en die seuns is ook onafskeidbaar lief vir mekaar. Jano en Zian het hul nuwe pappa gekry en Sonja ‘n nuwe lewensmaat. Die paartjie is ses maande later, op 23 April 2016, getroud en woon nou in Faery Glen, Pretoria. Sonja is voltyds betrokke by haar en Johan se onderneming, Specialised Performance Nutrition, wat voedselaanvullings aan sportlui verskaf. Johan het ook nog twee ander sakeondernemings. “Ons is ‘n baie gelukkige gesin,” sê Sonja.

“Jano is Zak se ewebeeld toe hy ‘n kind was. Hy het ‘n sagte geaardheid en is die stiller een van die seuns. Zian lyk meer na my maar hy het sy pa se ondeunde geaardheid,” sê Sonja.

Pa Johan het vir elke seun ‘n goue plaat van Pa Zak in hul kamers opgehang en Sonja het vir elke seun ‘n krat gepak met iets van Zak, soos ‘n stel klere, skoene, ‘n horlosie en ‘n kitaar.

Dit word veilig bewaar totdat die seuns eendag groot genoeg is om dit mooi op te pas en te waardeer.

Foto bo: Na al die hartseer is daar weer vreugde nadat Sonja ‘n nuwe lewensmaat en die seuns hul “nuwe pappa” (Johan Terblanché) gekry het.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button