Man kritiek beseer, 13 voertuie beskadig in skynbare aanranding
Hoë drama in Vanderbijlparkse spogbuurt na aanranding.
Daar was in die nagtelike ure van vanoggend, 12 April, hoë drama buite ‘n restaurant in Hendrik van Eck-boulevard, SE3, Vanderbijlpark toe ‘n struweling glo onder lede van die publiek uitgebreek het.
Een man is kritiek beseer en 13 voertuie is in die voorval beskadig.
Volgens Russel Meiring, ‘n woordvoereder van ER24, is paramedici in die vroeë oggendure na die toneel ontbied. Met hul aankoms omstreeks 02:20 het hulle op ‘n erg beseerde man van in sy 30’s op die sypaadjie afgekom, waar hy deur twee petroljoggies bygestaan is. Die polisie was ook reeds op die toneel.
Die paramedici het lewensondersteunende behandeling op die kritiek-beseerde man toegepas en hom na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere behandeling.
Twee ander beseerdes is op die toneel ondersoek maar hulle het net ligte beserings opgedoen en het behandeling geweier. Die polisie het hulle daarna oorgeneem vir ondervraging.
Die volledige agtergrond van die gebeure is nog onbekend maar die polisie was op die toneel om die saak deeglik te ondersoek.
Vaalweekblad sal meer inligting gee soos wat nuwe feite bekend word.



