NewsNews

Brand verwoes 18 luukse wonings

SASOLBURG. – Daar is die naweek bewys dat Vaaldriehoekers saamstaan in tye van krisis en nood. Mense het nader gestroom om hand by te sit toe een van die grootste en duurste brande nog in die Vaal uitgebreek het. Die brand, aangejaag deur ‘n sterk wind, het 18 luukse wonings wat tot meer as R4 …

SASOLBURG. – Daar is die naweek bewys dat Vaaldriehoekers saamstaan in tye van krisis en nood. Mense het nader gestroom om hand by te sit toe een van die grootste en duurste brande nog in die Vaal uitgebreek het.
Die brand, aangejaag deur ‘n sterk wind, het 18 luukse wonings wat tot meer as R4 miljoen elk kos, in Wonderfontein langs die Vaalrivier op Sondag, 20 September verwoes.
Voorlopige beramings is dat die skade meer as R100 miljoen beloop. Verskeie voertuie, jetski’s, sleepwaens, bote en huisraad is tot die grond toe afgebrand. Net ses van die 24 eenhede het nie gebrand nie, en twee het gedeeltelik gebrand.
Volgens AV Theron en Swanepoel Ingelyf, ‘n prokureursfirma in Sasolburg, bestaan dit uit ses deeltitel eenhede: Fisheagle Creek, Cycrid Ibis, Kamadonza Holdings, Spoonbill Nest, Malekite Waters en Heron’s Haven, elk met vier wonings op.
Die brand het omstreeks 10:30 ontstaan toe Rose, ‘n huiswerker in eenheid twee van Cycrid Ibis, wou kos maak en die gas ontplof het. Die brandweer het eers 12:15 opgedaag.
Sy is deur Netcare 911 na die hospitaal in Sasol geneem vir brandwonde aan haar arm en gesig. Sy was teen Maandag nog in die hospitaal.
Llewelyn Botha, ‘n inwoner oorkant die rivier wat hom per boot na die brand gehaas het, het aan Vaalweekblad gesê dat Rex Anderson, eienaar van Stonehaven on Vaal, een van die helde van die dag was. “Die brandweer het nie genoegsame water gehad nie en Rex het nie geskroom om sy waterkarre na die toneel te haas nie. Hy het gehelp om die laaste vier huise van die brand te red,” sê Llewelyn.
Rex het aan die media gesê dat hy geskok was oor die brandweer se gebrekkige toerusting. Volgens hom het die brandweer nie eers lere gehad nie.
Volgens omstanders het die brandweer se toerusting en leierskap hul gefaal. ‘n Inwoner het die Midvaal-brandweer gebel om te kom help en hulle reaksie was dat dit buite hul gebied is.
Dieselfe antwoord het van Emfuleni-brandweer gekom. Metsimaholo (Sasolburg- brandweer) en die Natref Nooddienste met verskeie vrywilligers was op die toneel met heeltemal te min toerusting vir die omvang van die brand. Nogtans het almal hul bes probeer om die vlamme te blus.
“Dit laat mens besef dat die Vaaldriehoek nie rampe kan hanteer en daar geen kommunikasie tussen die nooddienste is nie,” het een van die inwoners gesê.
‘n Ander omstander het gesê daar is meer ambulanse en paramediese personeel as brandweerpersoneel.
Buiten Rex het manne soos Thomas du Toit, Chris du Plessis, Piet Pienaar, Joggie Joubert, Llewelyn Botha, Donovan Baily, Kobus van Eeden en verskeie ander lede van die publiek en nooddienste het soos helde ingespring om te red wat hulle kon. Vreemdelinge het vreemdelinge se eiendom probeer beskerm. Die vuur was so intens dat dit 50m van die brand steeds verskriklik warm was.
Sommige eienaars was verslae, maar dankbaar dat hul eenhede gered is. Een eienaar wat in Ierland vakansie gehou het, is telefonies oor die brand ingelig. Radovan Krejcir, wat tans in die tronk is vir onder meer poging tot moord en die smokkel van dwelms, se huis wat eerste in die ry van 24 staan, het die vlamme vrygespring. Waar die meeste mense probeer help het, het ‘n man met ligte rooi hare en ‘n bril, ‘n ongeskeerde man, twee vroue en ‘n kind op ‘n boot, asook ‘n vrou op ‘n jetski, vermoedelik van die goedere gesteel wat uit die brandende huise gered is.
Nadat die brand geblus is, het die smeulende hitte egter weer laat Sondagnag opgevlam.
Jan Meiering en sy seun Mike, ‘n paar vrywilligers en die brandweer was binne 20 minute op die toneel en die brand is weer geblus. Jan het bevestig dat geen diere in die brand omgekom het nie. ’n Rondloper katjie het egter tydens die brand na hom gehardloop, maar is ongedeerd. * Besoek www.vaalweekblad.com vir video’s van die brand of volg ons op Facebook.

NewsCam (49) (Medium) (Small) Newscam (46) (Medium) (Small) _MG_2817 (Medium) (Small) DSC01190 (Medium) _MG_28211 (Medium) DSC01206 (Small) DSC01200 (Small) JannieduPlessis-DSC01193

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button