HealthLifestyleLocal newsNationalNews

Raadslid Phillip Nothnagel se ope brief oor Emfuleni se rioolkrisis

‘Emfuleni-inwoners besef nie hoe erg die probleem werklik is nie’

 

 

Raadslid Phillip Nothnagel van Wyk 5 in Emfuleni skryf:

Daar word baie gepraat en geskryf oor die riool besoedeling in Emfuleni. Ek dink baie keer nie al die Emfuleni-inwoners besef, hoe erg die probleem werklik is nie. Die rioolkrisis in en om die Vaal is buite beheer en veroorsaak ondraaglike  lewensomstandighede vir die gebied se inwoners.

Die probleem affekteer alle inwoners vanaf informele nedersettings tot die mees luukse ontwikkelings, besighede en nywerhede in die Vaal. Dit het selfs ‘n negatiewe effek op boere wat water uit die Vaal gebruik vir besproeing. Die verspilling van riool staan tans op rekord hoë vlakke, al die pad van Evaton tot en met die Barrage en verder stroomaf tot Parys en laer af in die Vaalrivier, waar die Vaal in die Oranje Rivier invloei.

Volgens die “Save the Vaal (Save)”  organisasie word daar daagliks tot soveel as 200 miljoen liters rou riool in die Vaalrivier gestort deur die Emfuleni Munisipaliteit. Die situasie is meer kritiek as wat dit ooit was, in die Vaaldriehoek Munisipaliteit se geskiedenis. ‘n Lang geskiedenis van swak instandhouding van die rioolsuiwerings pompstasies en infrastruktuurnetwerke is een van die hoofoorsake van die probleem.

Metsi a Leko is die entiteit binne Emfuleni, verantwoordelik vir die bestuur van water en sanitasie. Hulle word egter ernstig gekortwiek deur ‘n gebrek aan begroting, voertuie, gereedskap en menslike hulpbronne. Die Emfuleni Munisipaliteit spandeer slegs ongeveer 1% van sy begroting op instandhouding. Die Industriestandaard is 10%. Die probleem word vererger weens die feit dat die bankrot Emfuleni Munisipalteit nie eens geld het om brandstof  aan te vul vir reeds te min voertuie, wat behoort gebruik te word om gereelde inspeksies en herstelwerk te doen van die uitgebreide riool netwerke en pompstasies in Vereeniging en Vanderbijlpark. ‘n Deel van die pypnetwerk van meer as 2600 kilometer in Emfuleni is ouer as 60 jaar. Onthou die hoofrioolpypleiding loop 6 meter onder die grond. Spesiale en duur toerusting word benodig om herstelwerk  hieraan te doen. Ouer pype wat lek, dra ook grootliks by tot die grondwaterbesoedelingsprobleme.

Daar is 3 rioolsuiweringswerke in Emfuleni, Rietspruit, Leeukuil en Sebokeng wat die grootste is. Die drie rioolsuiweringswerke word gevoed deur 44 pompstasies wat in serie gekoppel is. Vyf en sewentig present  (75%) van die pompstasies is oud en moet opgegradeer word. Indien een van die pompstasies breek, affekteer dit die hele stelsel, aangesien die rou riool van een stasie na die volgende gevoer word. Die groter gevolg hiervan is dat rou riool nie eers by die suiwerings werke uitkom, vir prossesering en behandeling nie. Die rou riool eindig dan op in strate, stormwaterslote, spruite en uiteindelik direk in die Vaalrivier. Daar is ook ‘n aantal formele en informele behuisings onwikkelings wat nie aan die formele rioolstelsel gekoppel is nie waarvan die riool invloei in stormwaterstelsels wat opeindig in die river. Polokong is ‘n voorbeeld van so ‘n ontwikkeling.

Rioolbesoedeling bedreig een van on mees kosbare en skaars natuurlike hulpbronne, naamlik water. Oorvloeide mangate en gebreekte pype veroorsaak rioollekke, wat ‘n direkte verwante gesondheidsrisikos vir die gemeenskap inhou. Ekoli-tellings is hemelhoog. Die konstitisionele regte van mense, soos deur die Grondwet verskans, word aangetas deur die Munisipaliteit se versuim om besoedeling van die rivier te voorkom. Bykomend tot die aantasting van die omgewingsregte van mense het die besoedeling van die rivier verreikende gevolge  vir die ganse Provinsie, gegewe die feit dat Gauteng die grootste bydraer is tot die ekonomie van Suid Afrika. ’n Groot deel van die nywerheidsektor is afhanklik van skoon water vir produksie.

Die feit dat die rioolinfrastruktuur nie in stand gehou is soos vereis nie, het direk daartoe gelei dat die totale infrastruktuur besig is om ineen te stort het. Dit het tot gevolg dat die netwerk sover agteruit gegaan het dat die infrastrutuur in totaliteit vervang sal moet word teen massiewe koste. Die besoedeling van die rivier het ook ‘n negatiewe effek op die toerismebedryf en watersport in die Vaal, asook op Landbou-aktiwiteite wat afhanklik is van besproeing uit die rivier, sowel die eindomsmark wat negatief negatief beïnvloed word deur dalende huispryse. Die besoedeling van die rivier het ‘n direkte invloed op die publiek se persepsie dat Emfuleni ervaar word as die swakste Munisipaliteit in Gauteng. Gereelde gewelddadige diensleweringsbetogings getuig hiervan. Die diensleweringsbetogings gaan dikwels gepaard met die beskadiging en verwoesting van eiendom en infrastruktuur. (Meestal van onskuldige slagoffers).

Volgens ‘n berig in die Rapport van 21 April het eise vir skade gelei weens protes oor dienslewering in Suid Afrika meer as verdubbel in een jaar vanaf R800 Miljoen tot R1.7 Miljard. Sasria sal heelwaarskynlik gedwing  word om premies te verhoog om voorsiening te maak vir toekomstige eise. Beskadiging van paaie as gevolg van water wat in strate afloop, gee aanleiding tot slaggate en selfs sinkgate. Biljoene rande se eiendomsontwikkeling soos die Vaal River City, Aero Troppolis (Internasionale Lughawe, Hotel en Hospitaal), Business development Hub en noodsaaklike studente -behusingsprojekte, is gesteriliseer as gevolg van rioolbehandelingskapasiteit.

Die publiek het totaal vertroue in die Munisipaliteit verloor. Daar is al meer mense wat dreig om met ‘n belastingbetalingsboikot teen die Munisipaliteit te begin. Die probleem raak net al duurder om op te los, wat ‘n direkte verhogings-effek het op die Munisipaliteit se belasting begroting.  Daar word na raming ongeveer R1 biljoen benodig net vir noodsaaklike herstelwerk. Dit sal in die omgewing van R3 biljoen to R4 biljoen kos om die infrastruktuur te vervang.

ELM versuim reeds jare on gehoor te gee aan hofbevele. Save the VAAL het so pas geslaag met ‘n hofinterdik in die Hooggeregshof om die Ministers van Finansies, Water en Sanitasie, Omgewingssake, die Gauteng Premier en die MEC vir Finance and Co-operative Governance and Traditional Affairs (Cogta) by te voeg as partye tot ‘n interdik, wat teen die Emfuleni Munisipaliteit uitgereik is in Februarie 2018. Die interdik maak die entiteite gesamentlik met die Emfuleni Munisipaliteit, verantwoordelik vir die voorkoming van besoedeling van die Vaalrivier.

Die hof vereis dat daar planne aan die hof voorgelê moet word met tydskedules, begrotings en die monitering van die planne. Soos reeds deur Mooivaal Media berig, is daar ‘n Petisie geloods waarin President Ramaphosa versoek word om die besoedeling van die Vaalriviersisteem as ‘n Provinsiale Ramp te verklaar ten einde dringend fondse vir die projek te bekom. Ek wil ‘n ernstige beroep doen op alle landburgers, ook die wat nie in die Vaaldriehoek woon nie, om die petisie te ondersteun.

Suid-Afrika beskik oor die algemeen oor ‘n beperkte watervoorraad. Die kwaliteit van hierdie water word deur besoedeling van die riviere se opvanggebiede, bedreig. Dit hou ook ‘n bedreiging vir voëls, die vislewe en ander waterdiere in. Water is ‘n lewensbelangrike hulpbron en dit is die verantwoordelikheid van ALLE Suid-Afrikaners (nie net die Munisipaliteit) om verantwoordelik op te tree in hul alledaagse lewens en na ons beskikbare waterbronne om te sien. Sodoende kan ons verseker dat hierdie beperkte hulpbron vir alle lewe op aarde bruikbaar bly. Dit is uiters belangrik dat almal “Water Wys” word.

Foto onder: Raadslid Phillip Nothnagel.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button