EntertainmentEventsLifestyleLocal newsNews

Zanta Hofmeyr en Wim Viljoen tree op in historiese Klipkerk

Vanjaar se konsert vind plaas op Sondag 19 Mei om 15:00 en Vaaldriehoekse musiekliefhebbers is bevoorreg om die violis Zanta Hofmeyr en orrelis Wim Viljoen as kunstenaars te verwelkom

 

VEREENIGING. – Vir die afgelope vier jaar word groot musiekkonserte in die Klipkerk in Vereeniging ten bate van die onderhoud van dié pragtige historiese gebou aangebied.
Vanjaar se konsert vind plaas op Sondag 19 Mei om 15:00 en Vaaldriehoekse musiekliefhebbers is bevoorreg om die violis Zanta Hofmeyr en orrelis Wim Viljoen as kunstenaars te verwelkom.
Die Klipkerk in Vereeniging is een van die oudste geboue in die Vaaldriehoek en is in 1993 tot ‘n historiese monument verklaar. Die sandsteen kerkgebou, ontwerp deur Gerard Moerdijk, is werklik ‘n besondere besienswaardigheid met ‘n pragtige preekstoel, gekleure loodglasvensters en ‘n pyporrel wat steeds in sy oorspronklike toestand is. Die gemeente het in 2012 sy honderdste bestaansjaar gevier.
Zanta is een van Suid–Afrika se bekendste violiste. Sy het op 7-jarige ouderdom met klavieronderrig en op 10-jarige ouderdom met vioollesse begin. Haar eerste konsertoptrede saam met ‘n orkes was op 14-jarige ouderdom en op 17 het sy aan die Juilliard Skool vir Musiek in New York begin studeer. Sy het intussen na Suid-Afrika teruggekeer en ‘n suksesvolle loopbaan as konsertviolis en vioolonderwyser gebou. Benewens jaarlikse optredes saam met pianiste tree sy ook gereeld as solis saam met verskeie orkeste in Suid-Afrika op. Sy was verbonde aan die Universiteit van Noordwes, die Universiteit van die Witwatersrand en vanaf 2000 vir vyf jaar mede-professor by die Universiteit van Pretoria.
Wim Viljoen doseer orrel en klawesimbel in die departement Musiek van die Universiteit van Pretoria waar hy voorheen ook die hoof van die musiekdepartement was. As jong musiekstudent het hy destyds vir twee jaar in Parys onder die beroemde Franse orrelis Marie-Claire Alain studeer. In dié tyd was hy pryswenner van die internasionale orrelkompetisies in Chartres en Nürnberg. Hy het reeds aan uitvoerings in die VSA, Frankryk, Brittanje, Nederland, Switserland, Duitsland en Tjeggië deelgeneem.
Nog ‘n kunstenaar wat gaan optree is die talentvolle Coert Grobbelaar, wat in 1998 as tenoor sy debuut gemaak het in die première van die Transvaalse produksie van die opera Fidelio (Beethoven). Hy het etlike jare musiek in Europa studeer en in talle Duitse stede asook in Padua in Italië en Zurich en Basel in Switzerland opgetree.
Twee kore gaan ook op 19 Mei aan die konsert in die Klipkerk deelneem. Die Cantando@Deltakoor onder leiding van dr. Jan Smit met begeleier Imker Hoogenhout. Die koor het al drie keer aan die “Songs of Praise” onder leiding van Richard Cock deelgeneem en het gedurende 2015 in Suid-Tirool, saam met Cantando@Bloem, deelgeneem aan die Alta Posteria Koorfees in Italië.
Die koor van Hoërskool Driehoek, wat gedirigeer word deur Dalien Ahlers, is ook deel van die Klipkerk-konsert. Hulle het verlede jaar deelgeneem aan die Wêreld Koorolimpiade waar hulle ‘n silwermedalje ontvang het.
Die musiekkonsert word aangebied deur Die Dameskring van die Vaaldriehoek in samewerking met die Klipkerkgemeente. Na afloop van die uitvoering sal daar koffie, tee en verversings bedien word. Kaartjies kos R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 12, en is beskikbaar by:
Klipkerk-kerkantoor: Mnr. Attie Kotze – 016 422 2180 / 082 412 0528
Vereeniging: Freda de Coning – 084 582 4572
Vanderbijlpark: Martie Herbst – 082 936 6147
Kaartjies sal ook die dag by die deure beskikbaar wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button