In sak en as na brand
VEREENIGING. – Skaars ‘n week nadat 18 huise in ‘n brand by Wonderfontein langs die Vaalrivier verwoes is, is ‘n gesin van ses se huis op die Mooilande-kleinhoewes buite Vereeniging ook heeltemal in ‘n brand verwoes. Dit is weer eens bewys dat inwoners van die Vaaldriehoek vir mekaar omgee, toe hulle die gesin in hul …
VEREENIGING. – Skaars ‘n week nadat 18 huise in ‘n brand by Wonderfontein langs die Vaalrivier verwoes is, is ‘n gesin van ses se huis op die Mooilande-kleinhoewes buite Vereeniging ook heeltemal in ‘n brand verwoes.
Dit is weer eens bewys dat inwoners van die Vaaldriehoek vir mekaar omgee, toe hulle die gesin in hul nood bygestaan het.
Maartin (37) en Anneline (32) Pretorius en hul vier kinders Maarline (10), Nadine (7), Hannes (4) en Maartin (2) het op Vrydagaand 25 September al hul besittings verloor in ‘n brand waarvan die oorsaak nog onbekend is.
Maarline, die oudste dogter, het die aand omstreeks 10:30 haar ma in die gesig geklap om wakker te word en gesê: “Mamma, dit brand”. Maartin het dadelik vir Anneline en die twee meisies na buite geneem en toe teruggegaan om die twee seuns te gaan haal.
“Ek het net ‘n bietjie van my hare geskroei, maar ten minste is my gesin veilig,” vertel Maartin. Van die pad af moes hulle toekyk hoe alles wat hulle besit in vlamme opgaan.’n Gasbottel in die huis het ook tydens die brand ontplof.
Dokumente, lisensies, sleutels, bankkaarte en meubels wat erfstukke was, het alles in die slag gebly. Maartin het nie versekering nie. Twee weldoeners uit die gemeenskap het na vore gekom om die gesin by te staan. Die twee meisiekinders bly tans by familie en Maartin, Annalien en die twee seuns bly nou in ‘n woonwa op die kleinhoewe.
Ganan Doodhnath, ‘n buurman so twee plotte van die Pretorius-gesin af, is die betrokke aand dadelik na die toneel toe ‘n noodroep uitgegaan het op hul plaaslike Mooilande Agricultural Residence Association (MARA) radio’s. Midvaal brandweer was nadat Andrè Bekker (MARA) hul per radio gekontak het, binne 20 minute op die toneel, maar niks kon gered word nie. Ganan was so geraak deur die toneel van die gesin se smart dat hy aangebied het om die huis weer te herbou. Ganan bedryf die onderneming Gamula Construction in samewerking met vriende van INS Commercials in De Deur en het reeds op Maandag 28 September met opruimingswerk begin.
Joggie Joubert van Pondo Shades in Vanderbijlpark, wat een van die helde was in twee weke gelede se brand by Wonderfontein waarin 18 van die 24 luukse eenhede langs die Vaalrivier afgebrand het, het ‘n R10 000 beloning van die eienaars van die laaste huis in die ry, Louis en Gina Sacks, ontvang.
“Thank you from the bottom of my heart for your wonderful efforts to save our house from the fire! Louis and I are very grateful that you responded so quickly and with such determination. You are a star,” was Gina se woorde aan Joggie. Joggie en ‘n plaaslike weldoener het die vierde laaste eenheid gered voordat die brand dit kon vernietig.
Joggie het nie geskroom om op die dak te klim met ‘n brandslang en het selfs van die brandende dekriet uitgeruk om die brand te stop. Joggie het na die beloning gesê hy het dit uit die goedheid van sy hart gedoen en het gevoel hy kan die geld eerder skenk vir mense in nood. Joggie het Vaalweekblad gekontak en nadat hy gehoor het van die Pretorius-gesin, het hy ingestem om die familie te help. Hy het Maandag R10 000 aan die gesin geskenk om te help met klere, kos en die nodige. Enige persone wat behulpsaam kan wees met klere vir die twee meisies vir Laerskool Voorwaarts, asook enige ander huishoudelike items, word versoek om hul harte oop te maak.
“Ons sal weer opstaan,” het Anneline met trane in haar oë gesê toe sy en Maartin die geld van Joggie ontvang.




