LifestyleLocal newsNews

Vaalweekblad: Van klein begin tot gevierde nuusdraer

1964 - 2019 - Vaalweekblad kyk terug na 55 jaar se betrokkenheid by die Vaaldriehoek se mense

Vaalweekblad: Van klein begin tot gevierde nuusdraer

 

Retha Fitchat

Wat gebeur as ‘n predikant en ‘n prokureur wat dieselfde beginsels het en ‘n liefde vir hul taal en streek se mense deel, sakeplanne begin maak?

Klits dan nog R200 se beginnersgeld by en siedaar, jy kry ‘n koerantjie wat stadig maar seker beslag kry en groei tot een van die sterkste gemeenskapskoerante in die land.

Ja, daardie einste koerantjie met die naam Vaalweekblad, wat op 8 Mei 1964 vir die eerste keer verskyn het, vier vanjaar sy 55ste bestaansjaar!

Prof. I.J. (Naas) van der Walt, ‘n predikant van die Gereformeerde Kerk in Vanderbijlpark, was die eerste redakteur. Hy het later ‘n professor aan die Teologiese Skool in Potchefstroom geword.

Die ander stigterslid was mnr. A.A. (Dries) van der Walt, ‘n bekende prokureur in die Vaaldriehoek.

Prof. Naas het jare later vertel dat hulle saam-saam R200 “gestoot” het om Vaalweekblad te begin.

Maar moenie dink dit het maklik gekom nie. R200 in daardie dae was ‘n aardige bedraggie.

“Vir die res het ons op ‘n 90-dae rekening by Oubaas van der Spoel (die destydse drukker) gewerk,” het hy vertel.

In Junie 1969 is die beherende aandeel in Vaalweekblad deur ‘n Johannesburgse verslaggewer, Sarel van der Walt, wat destyds nuusredakteur van die Vaderland was, oorgeneem.

Hy is bygestaan deur sy ewe knap joernalis-vrou, Willa.

En as jy wou weet hoe ver Koekenaap van Lambertsbaai, of Thomson’s Falls van Nairobi af was, kon jy dit maar vir Sarel vra, want Afrika – van die Kaap tot by die grens van Abessinië – het hy soos die palm van sy hand geken.

Hy het in die 25 jaar voordat hy Vaalweekblad se redakteur geword het, meer as ‘n outydse miljoen myl afgelê – ‘n afstand 40 keer om die aarde!

Sy reise was meestal per motor, trein of vliegtuig, maar dikwels ook per donkiekar of trapfiets.

As joernalis het hy selfs koerantopdragte agter die linies van die Mau-Maus in Afrika gaan uitvoer en stories oor verwikkelinge in Wes-Europa, die destydse Persië en die oorloggeteisterde Israel, gaan haal.

Nadat hy onder meer ‘n draai by Die Transvaler, Huisgenoot, Sarie, Dagbreek en Vaderland gemaak het, het hy eindelik by Vaalweekblad kom afsaal. Nie dat daar tyd was vir rus nie, want dié jong koerant het sy pond vleis aan energie, wilskrag en deursettingsvermoë geëis.

Na sy dood aan hartversaking in 1973 het sy vrou, Willa, Vaalweekblad se leisels as besturende redakteur oorgeneem. Sy was voorheen onder meer redakteur van die koerant Dagbreek se Fleur en ook voormalige vroueredakteur van Die Transvaler.

Op 1 April 1979 is Vaalweekblad deur Nasionale Pers gekoop – die eerste streekkoerant in die Nasionale Pers-stal. Teen daardie tyd was Vaalweekblad amptelik die grootste gemeenskapskoerant in Suid-Afrika. ‘n Rekord wat Vaalweekblad ‘n hele paar jaar gehou het.

In 1985 het Vaalweekblad en die Caxton-koerant Ster saamgesmelt om Vaaldriehoek Uitgewers, en later MooiVaal Media, te word.

Willa, wat in 1994 afgetree het, het ‘n onmeetbare groot rol gespeel in Vaalweekblad se ontwikkeling tot die multimiljoen rand onderneming wat MooiVaal Media vandag is.

Sy is in op 13 November 2009 in die ouderdom van 80 jaar in Pretoria oorlede.

Die Van der Walt-egpaar se seun, ook Sarel, was ‘n assistent-redakteur van Beeld en is tans ‘n politieke joernalis van Netwerk24, Beeld, Die Burger en Volksblad. Hul dogter, Marika, is ‘n advokaat.

Mev. Van der Walt is in die jare na haar aftrede as bestuurder opgevolg deur Abraham van Zyl, Dirk Uys, Rassie van Zyl en Thys Foord. In haar rol as redakteur is sy opgevolg deur Sys Meyer, Jakkie Dominicus, Michael Crooks (met hooftaak Ster), Willie Buys en Retha Fitchat. Retha is in Maart 2019 opgevolg deur die nuwe redakteurspan Elsje Vermeulen, Ettienne van Rensburg, Lerato Serero (met hooftaak Sedibeng Ster) en Jannie du Plessis (digitaal).

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button