Die NWU Vaal se Franco Bosman slaan SAIGR-eksamen vir ‘n ses
Die uitslae van die SAIGR (Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters) se Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (“Initial Test of Competence”) (ITC-eksamen) het gesorg vir 'n veertjie in die hoed van die Skool vir Rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU).
Die NWU Vaal se Franco Bosman slaan SAIGR-eksamen vir ‘n ses
Die uitslae van die SAIGR (Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters) se Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (“Initial Test of Competence”) (ITC-eksamen) het gesorg vir ‘n veertjie in die hoed van die Skool vir Rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU).
Die NWU het nie alleen ‘n 94% slaagsyfer vir kandidate wat dit die eerste maal geskryf het nie, maar spog ook met twee studente in die top 10, waarvan een die nommer een posisie in die hele Suid-Afrika beklee.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGRA) het die uitslae vir die Januarie 2019 ITC toets op Vrydag, 29 Maart vrygestel. Franco Bosman wat die Vanderbijlparkkampus van die NWU verteenwoordig het, het as nasionale toppresteerder, studente van 15 ander deelnemende universiteite uitgestof.
Franco het tot graad 9 tuis skool gegaan, waarna hy in graad 10 by die Hoërskool Dr Malan in Meyerton ingeskryf is. Hy het in 2014 gematrikuleer en is, met sewe onderskeidings, as tweede beste matrikulant in die Sedibengdistrik aangewys. In 2015 het hy vir ‘n B.Com Geoktrooieerde Rekenmeestersgraad aan die NWU se Vanderbijlparkkampus ingeskryf. Franco het die graad voltooi deur al sy modules met onderskeiding deur te kom. Sy gemiddeld was 91.9%. Verder het Franco die B.Com Honneurs in Geoktrooieerde Rekenmeesterskap voltooi. Die graad is bekend as baie uitdagend.
Franco doen tans sy akademiese artikels aan die NWU se Vanderbijlparkkampus terwyl hy aan ‘n meestersgraad werk. Daarna sal hy die oorblywende deel van sy opleiding by Deloitte, een van die vier grootste rekeningkunde firmas in Suid-Afrika, vanaf 2020 voltooi.
Volgens prof. Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die Skool van Rekenkundige Wetenskappe opo die Vanderbijlparkkampus bly die NWU toegewy aan die lewering van Geoktrooieerde Rekenmeesters siende dat dié loopbaan op die lys van skaars vaardighede van die Departement van Hoër Onderwys, gelys is. Sy het bygevoeg dat die voorgraadse program in Geoktrooieerde Rekenmeesterskap op al die kampusse van die NWU aangebied word, terwyl ‘n nagraadse kwalifikasie studente in staat stel daartoe om die ITC-eksamen te skryf, wat by die Potchefstroom en Vanderbijlparkkampusse beskikbaar is. Meer inligting rondom hierdie en ander kwalifikasies kan op die NWU webblad (www.nwu.ac.za) gevind word.
Ida Mittermaier, van die Potchefstroomkampus het die derde plek beklee.



