NewsNews

Kardoes wil vlieg, al kan sy nie

VANDERBIJLPARK. – Filistéa Rosenbaum (50) was al sedert haar kinderjare in die Vaaldriehoek ‘n rooimier. Terwyl haar maatjies pop gespeel het, het sy geklim en geklouter om haar omgewing en die natuur te verken. Sport was van haar skooljare af ’n groot saak vir Filistéa (of sommer Felix of Kardoes vir haar vriende) – eers …

VANDERBIJLPARK. – Filistéa Rosenbaum (50) was al sedert haar kinderjare in die Vaaldriehoek ‘n rooimier. Terwyl haar maatjies pop gespeel het, het sy geklim en geklouter om haar omgewing en die natuur te verken.
Sport was van haar skooljare af ’n groot saak vir Filistéa (of sommer Felix of Kardoes vir haar vriende) – eers as leerling aan die Laerskool Vaalrivier, daarna in Sasolburg en uiteindelik tot in matriek aan die Hoërskool Vereeniging. Geen wonder nie dat sy op skool reeds ‘n junior Springbok-atleet en ‘n provinsiale swemmer was.
As volwassene het Kardoes die wêreld platgereis; vyf langafstand Eco Challenges baasgeraak, Kilimandjaro geklim, nege Midmars gedoen en die Tsitsikamma- en Fanie Botha-staproete van so 100 km lag-lag kafgedraf.
Dié rooimier se aktiwiteite het onverwags tot ‘n halt gekom toe die Groot K, waarmee sy ’n paar jaar gelede die eerste keer kennis gemaak het, haar ruggraat verlede jaar aangetas en haar van net onder die arms tot by haar tone verlam gelaat het. Getrou aan haar positiewe aard en wil van staal het sy hierdie terugslag ook as ‘n uitdaging gesien. Sy het vyf maande in ‘n rehabilitasiesentrum deurgebring en soos ‘n ware sportvrou die tegnieke bemeester om oor dié ongemaklike hoë hekkie te kom.
Hoewel sy 100% afhanklik is van haar rolstoel, lig sy haar nou al met gemak uit haar bed of uit ‘n motor tot in haar rolstoel. Sy bedryf selfs met die hulp van haar assistent, Tsepo, ‘n florerende besigheid uit haar huis deur letterlik tonne topgehalte olywe, songedroogde tamaties, jalapeño’s, knoffel en soetrissies per maand by boere in die Oos- en Wes-Kaap te bestel en aan prestige restaurante aan die Rand te verskaf. Sy het reeds so ‘n goeie naam met haar “niche market salads” opgebou dat sy ‘n gesogte kontrak met Gallagher Estates en Mug & Bean losgeslaan het.
“Vir my is daar nie ‘n ding soos moed opgee nie. Ek het te veel om voor dankbaar te wees.
“Toe ek nog kon loop was ek soms maar erg onplesierig. Te oorheersend, onverdraagsaam en ongeduldig. Nou is ek gedwing om alles stadig te doen, maar ek het balans in my lewe gekry. Nou geniet ek ware kwaliteittyd saam met my kinders, my ouers, my vriende en my man, Antonio, wat wonderlik goed is vir my,” sê sy.
Sy het haar sakeonderneming selfs aanhou bedryf gedurende die tyd toe sy intensiewe kankerbehandeling moes kry en is nou in remissie. “Natuurlik voel ek soms hartseer omdat ek nie meer alles kan doen soos voorheen nie, maar gelukkig het ek alles beproef in my ‘normale’ jare.
“Ek is nou op ‘n gemaklike plek en voel bevoorreg dat ek twee heeltemal uiteenlopende lewenswyses in een lewe kon beleef: eers baie aktief en selfstandig en nou stadiger en meer afhanklik van ander.
“Ek leef na aan die Vader en sien uit na baie dinge wat ek nog kan doen. Ek wil graag reis, reis, reis!”
Om dié rede was haar vriende Saterdag so verheug toe juis haar naam getrek is as wenner van die twee Mango-vliegkaartjies in Vaalweekblad en Cansa se pretstap-trekking. Hoewel Kardoes nie self by die geleentheid kon wees nie, het sy telefonies aan Vaalweekblad gesê sy is uit haar vel van blydskap, want die vliegkaartjies stel haar en haar man in staat om gou weer hul kinders, Steven (24) en Andrea (22) wat in Kaapstad werk, te sien.

Die Rosenbaum-gesin vandag: Kardoes en Antonio saam met hul kinders, Steven en Andrea.
Die Rosenbaum-gesin vandag: Kardoes en Antonio saam met hul kinders, Steven en Andrea.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button