NewsNews

Midvaal bly blou

MEYERTON. – Vreugdevure het hoog gebrand in Midvaal toe die planne om ‘n metropolitaanse munisipaliteit in Sedibeng te vestig, in die wiele gery is. ’n Hofbevel is op 22 September, as deel van ‘n skikkingsooreenkoms, deur die hooggeregshof in Pretoria uitgereik dat Midvaal nie vir die 2016 verkiesing deel gaan word van dié metro nie, …

MEYERTON. – Vreugdevure het hoog gebrand in Midvaal toe die planne om ‘n metropolitaanse munisipaliteit in Sedibeng te vestig, in die wiele gery is. ’n Hofbevel is op 22 September, as deel van ‘n skikkingsooreenkoms, deur die hooggeregshof in Pretoria uitgereik dat Midvaal nie vir die 2016 verkiesing deel gaan word van dié metro nie, en dus ’n DA-munisipaliteit bly. Midvaal is die enigste DA-regerende munisipaliteit in Gauteng en vorm saam met twee ander munisipaliteite die Sedibeng Distriksmunisipaliteit. Vir ‘n geruime tyd is daar planne beraam dat die Emfuleni- en Midvaal Plaaslike Munisipaliteite moes saamsmelt om Sedibeng in ’n metropolitaanse munisipaliteit te omskep. Lesedi Plaaslike Munisipaliteit sou dan deel van die reeds bestaande Ekurhuleni Munisipaliteit aan die Oos-Rand word. Die sprake van ’n metro wat dan slegs hoef te bestaan uit Emfuleni is egter vir eers ook in die verlede, aangesien daar met Midvaal se voortbestaan nou verseker nie ’n alleenstaande munisipaliteit binne ’n distriksmunisipaliteit mag wees nie.
Midvaal het egter nog nooit aan die vereistes van ‘n metro voldoen nie.
Mnr. Freddie Peters, voorsitter van P.A.M (People Against the Metro) het die bul by die horings gepak om te verseker dat Midvaal blou bly. Dié organisasie, saam met Midvaal Plaaslike Munisipaliteit (MPM) asook die Demokratiese Alliansie (DA) het alles in hul vermoë gedoen om die Munisipale Afbakeningsraad en diegene wat die metro ondersteun se planne, wat as ‘n politiese skuif beskou word, hok te slaan. “Die dokument wat aan die einde van die dag vanaf die Midvaal-span aan die hof oorhandig is, was sowat 20 000 bladsye, waarvan 15 000 daarvan net van Midvaal kom,” sê Peters. Dit sluit onder meer objeksiebriewe, dokumente en petisies in. Volgens raadslid Bongani Baloyi, uitvoerende burgemeester van Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het Midvaal gewys hulle kan dinge anders doen. “Ons het dinge vreedsaam aangepak en die nodige publieke deelname gekry. Ons kan trots wees op onsself,” sê hy. Hy het ook groot dank en waardering vir Peters wat uit sy pad gegaan het om die planne vir ‘n metro teen te staan.
“As hy eers met iets begin, gee hy nie op nie. Daar was ‘n paar keer wat ons die handdoek wou ingooi, maar hy is die een wat ons gemotiveer en op ons tone gehou het om klaar te maak wat ons begin het,” sê Baloyi. Hy noem dan ook dat mense van alle kulture, tale en van oor verskeie politieke partye saamgestaan het om hierdie uitkoms te bewerkstellig en het die Midvaal gemeenskap saamgesnoer om die uitstekende diensverskaffing in Midvaal te behou. Midvaal Munisipaliteit is onlangs weer deur Ratings Afrika op die jaarlikse Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks aangewys as die beste munisipaliteit in Gauteng. Mnr. Pravin Gordhan, minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede het die hof se besluit verwelkom. Raadslid Phil C. Pretorius, hoofsweep van MPM het gesê dat inwoners van Midvaal egter nie nou bloot kan terugsit nie. “Die 2016 plaaslike verkiesings lê voor en om Midvaal ’n DA-munisipaliteit te hou, het ons elke inwoner se hulp nodig om te gaan registreer en te stem.”
“Peters het dit beaam deur te sê daar is reeds waarskuwings vanaf die ANC dat hulle nou by die stembus tydens die verkiesing Midvaal gaan oorneem, so die stryd is nog nie verby nie. Ons kan dit nie alleen doen nie, ons het die publiek nodig.”
Daar is tans 27 raadslede in Midvaal, waarvan 15 DA-raadslede, 11 ANC-raadslede en een VF+ is. Inwoners van Midvaal word gevra om te registreer sodat hulle tydens die 2016 plaaslike verkiesing hul stempel kan afdruk.
“Alle eer en dank aan ons Midvaal gemeenskap en selfs individue en organisasies buite Midvaal wat oor die afgelope vyf jaar ons so getrou ondersteun het,” sê rdl. Pretorius

Raadslid Bongani Baloyi, burgemeester van Midvaal Plaaslike Munisipaliteit deel die goeie nuus met inwoners tydens 'n vergadering wat op 22 September gehou is.  Foto: Carla du Plessis
Raadslid Bongani Baloyi, burgemeester van Midvaal Plaaslike Munisipaliteit deel die goeie nuus met inwoners tydens ‘n vergadering wat op 22 September gehou is. Foto: Carla du Plessis

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button