EntertainmentEvents

Krisis in brandweerdienste – die redes en oplossings

Jare gelede het die Vaaldriehoek met van die mees gedissiplineerde brandweerspanne in die land gespog. In Vereeniging en Vanderbijlpark was daar in die ou dae gereeld rede dat Vaalweekblad oor die nooddiensspanne se heldhaftige en suksesvolle optrede kon skryf. ‘n Jaar of drie gelede het Midvaal se brandweerspan weggestap met ‘n nasionale toekenning. Sasolburg se …

Jare gelede het die Vaaldriehoek met van die mees gedissiplineerde brandweerspanne in die land gespog. In Vereeniging en Vanderbijlpark was daar in die ou dae gereeld rede dat Vaalweekblad oor die nooddiensspanne se heldhaftige en suksesvolle optrede kon skryf. ‘n Jaar of drie gelede het Midvaal se brandweerspan weggestap met ‘n nasionale toekenning. Sasolburg se brandbestrydingsdiens het ‘n paar jaar gelede selfs Vaalweekblad se voorblad gehaal toe hulle onverskrokke in ‘n brandende huis ingegaan en ‘n baba gaan uithaal het. Die kleintjie se lewe is sodoende gered.
Nou waar het dinge verkeerd geloop en wat kan gedoen word om sake te verbeter? Vaalweekblad verneem gereeld gerugte dat Vaaldriehoekse brandweerspanne op ‘n sloerstaking is of glad nie werk nie omdat daar probleme met hul betaling is, of dat hul toerusting nie funksioneer nie en hul werksomstandighede daarom lewensgevaarlik.
Peet Schabort, ‘n gereelde rubriekbydraer van Vaalweekblad, het op sy eie gaan ondersoek instel na die stand van ons streek se brandbestrydingsdienste. Hy meen die probleme kan toegeskryf word aan die samevoeging van kleiner munisipaliteite in groter onbeheerbare en onbeholpe munisipaliteite met sommige personeel wat nie opgelei is om hul werk behoorlik te doen of oor wie nie behoorlike toesig uitgeoefen word nie. ‘n Verdere probleem is die afstand tussen dorpe in die groter distriksgebiede. Politiek in plaaslike regering is net so ‘n onding omdat daar volgens politieke oortuigings gestem word en die meerderheidstem dan kan veroorsaak dat verkeerde of ondeurdagte besluite tot nadeel van alle inwoners geneem word.
Ook het die munisipaliteit nou ‘n middelman geword wat kontrakteurs huur om die meeste van die werk te doen. Betalende inwoners betaal dus die munisipaliteite, wat ‘n deel van die geld in hul sakke steek en kry dan iemand anders om die werk te doen.
Schabort meen die oplossing vir die huidige krisis in ons brandbestrydingsdienste is die verwydering van die huidige stelsel en privatisering, asook dat inwoners na hul eie belange moet begin omsien. Ons sien dit reeds in verskeie dorpe waar strate en sypaadjies onderhou word deur die inwoners. Dit is egter ver van ideaal want die munisipaliteite word immers betaal om die diens te lewer. Waarom hulle betaal as jy agterna wéér vir materiaal moet betaal en die werk boonop self moet doen? Klink dit nie na ‘n Mafia-benadering nie? Die Grondwet, Hoofstuk 7 (Plaaslike Regering) waaronder “Oogmerke van plaaslike regering” val, word doodeenvoudig deur munisipaliteite geïgnoreer. Dié situasie het nou te lank aangehou. Die publiek behoort na stappe te kyk om gedissiplineerd maar georganiseerd op beter diens aan te dring.

Related Articles

 
Back to top button