Fokus op Vaal -rioolkrisis – Deel 5
Focus on Vaal Sewage Crises - Part 5
Rioolkrisis kring wyer uit
Vaalweekblad 1 Mei bls 7
VANDERBIJLPARK. – Die toekoms lyk donker en indien daar nie gou werkbare oplossings gevind word nie, is ‘n gesondheidskrisis die Vaaldriehoek se voorland.
Inwoners moet daagliks die reuk van rou riool trotseer waar dit in strate opdam en selfs in mense se erwe instroom. ‘n Gesin van Vanderbijlpark het die afgelope maand twee van hul boerboel honde verloor nadat hulle vermoedelik rioolwater wat in die erf ingevloei het, gedrink het. Mnr. Wiets Hayes en sy vrou Esmarie van Dantestraat in CW5, sukkel al maande met die hoofdreineringsgat (mangat) in die veld agter hul erf. Dit stoot op in die dreine op sy stoep. Met die onlangse reën het dit oorgeloop en die hele stoep was onder die riool. Hy meen die honde het van die water gedrink en dus daarvan gevrek.
“Ons het dit reeds aan die begin van Februarie aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gerapporteer. Ons het drie kindertjies en hulle kan nie eers meer agter in die erf speel nie. Die stank is erg en stukke toiletpapier is maar ‘n paar van die onooglikhede wat in die rioolwater opdam,” sê hy. In Vereeniging is dit so erg dat die riool in winkelsentrums se parkeerareas en selfs by winkels se aflaaisones instroom. Dit is weer eens die gevolg van Emfuleni se onvermoë om die ondergrondse pype wat al baie oud is, te vervang. Riool en stank is oral in die stad te sien en te ruik. In Sharpeville sukkel sommige inwoners ook met riool wat in hul erwe en huise instroom. Dit is reeds gerapporteer, maar niks gebeur nie.
Mnr. Johan de Klerk, voorsitter van die Vaal Action Group en wêreldkampioen in varswaterhengel, woon langs die Vaal de Gra Gholfbaan ‘n paar kilometer buite Parys. Hy het aan Vaalweekblad gesê hy meen die rioolbesoedelingsprobleem is steeds dieselfde as voor die weermag ingegryp het. Hy het voorts gesê die visvrektes in November verlede jaar, waarvan ‘n groot getal moddervisse, geelvis, karp en babers was, kan moontlik ook weens een of ander chemiese storting en nie weens riool wees nie. Hy glo dat die probleem iewers in die Vaaldriehoek begin en dan so ver soos Leeudoringstad uitkring.
“Mense dink die riviere lyk goed, maar dit is nie die geval nie. Ek dink ons het net daaraan gewoond geraak,” sê hy. Hy het gesê monsters wat deur die Vaal Action Group van die water geneem is, toon dat daar ongewenste swaar metale in die water gekry is. Dit was ver bo die normale, maar in dié stadium weet niemand wat die oorsaak is nie. Hy het onlangs aan die wêreldkampioenskappe vir varswaterhengel deelgeneem wat by Bloemhof dam gehou is. “Afgesien van die probleme, word Suid-Afrika steeds as die Mekka vir varswaterhengel beskou,” sê hy. Op die vraag of hengelaars bewus is dat die rivier moontlik ‘n gevaar inhou, het hy gesê die gemiddelde hengelaar is bewus daarvan.
Die rioolkrisis in die Vaalrivier-gebied is steeds besig om daagliks te versleg, met die hoogste E.Co.li-telling ooit, naamlik 2,5 miljoen per 100 milliliter water, wat twee weke gelede in die Rietspruit aangemeld is. Die Rietspruit en die riool daarin vloei direk in die Vaalrivier en hou die water ‘n groot gevaar vir mens en dier in. E.Coli is ‘n aanduiding van die rioolbesoedeling. Die E.Co.i waarde in terme van drinkwater is 0 tellings per 10 milliliter. 400 E.Coli tellings per 100 milliliter water is reeds gevaarlik vir mens en dier. Volgens Mariette Liefferink, hoofuitvoerende beampte van Die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing (Federation for a Sustainable Environment) en omgewingsaktivis, het Rand Water se waterkwaliteitsresultate vir die Rietspruit gedurende die laaste 10 jaar E.Coli tellings van tussen 452 200 en 7 932 500 getoon. E.Coli vlakke tussen 200 – 400 tellings per 100 milliliter (in drinkwater) sal tot gevolg hê dat mense wat dit drink of daarmee in aanraking kom, velirritasies, infeksies en ongesteldhede van die ingewande kan opdoen. Die Rietspruit word grootliks gebruik as drinkwater vir vee, maar ook vir spirituele rituele soos die doop by sekere bevolkingsgroepe, besproeiing, vir huishoudelike gebruik, ontspanning en somtyds ook om te drink. Meeste mense in die Vaaldriehoek gebruik watersuiweringssisteme of koop hul drinkwater omdat hul hulself nie aan die siektetoestande wil blootstel nie. Dit is egter nie vir mense in landelike gebiede en arm gemeenskappe moontlik om die ekstra uitgawe aan te gaan nie. Die probleem in dié stadium is dat die Emfuleni Munisipaliteit lankal beheer oor dienslewering en onderhoud aan infrastruktuur verloor het. Die verskil wat die (SANW) tot nou gemaak het, is maar minimaal.





