Ruann behou SA-titel met uitklophou
Ettienne van Rensburg PRETORIA. – Die Meyertonner, Ruann Visser, het verlede Sondagmidda g in die Sun Arena, Justice Siliga, in die eerste rondte uitgeslaan om sy Suid-Afrikaanse Swaargewigbokstitel te behou. Visser het in die proses die vakante Pan Africa-titel ingepalm, maar wat van meer belang is, is dat hy weer op die wenpad is, nadat …

Ettienne van Rensburg
PRETORIA. – Die Meyertonner, Ruann Visser, het verlede Sondagmidda g in die Sun Arena, Justice Siliga, in die eerste rondte uitgeslaan om sy Suid-Afrikaanse Swaargewigbokstitel te behou.
Visser het in die proses die vakante Pan Africa-titel ingepalm, maar wat van meer belang is, is dat hy weer op die wenpad is, nadat hy onlangs deur Elvis Moyo geklop is.
Siliga was egter soos ‘n lam ter slagting gelei en is vanuit die staanspoor deur Visser oorheers.
Die vierde weergawe van die Battle of the Warriors was eerlikwaar ‘n harmansdrup-affêre. Die eerste gevegte tussen Igor Shevutnutskiyi/Wikus Ludeke, Taras Neudachyn/Peto Kapeto, Flo Simba/Mussa Ajibu, Marios Mtamba/Salimu Chazama, Chris Thompson/Youssouf Mwaza en Marc Subramoney/Luke Sutherland was maar louwarm. Net voordat dit wou voorkom of Dozi se weergawe van Guns n Roses se Knocking on Heaven’s doors in Zulu die hoogtepunt van die dag sou wees, het Vladyslav Sirenko en Denis Bakhtov tot die gapende toeskouers se redding gekom.
Hoewel die geveg eers in die sewende rondte in Sirenko se guns gestop is, was dit ‘n geval dat die rateltaai 39-jarige Bakhtov van begin tot einde deur die 21-jarige Oekraniër oorskadu is.
Bakhtov is werklik te taai vir sy eie gesondheid en die littekens op sy gesig is soos blomkoolore vir rugbyslotte, stille getuienis van ‘n deurwinterde bokser.
Sirenko wat ‘n opklopspesialis is, het sy teenstander met bomme getref, maar nie een van sy houe kon sy teenstander planke toe stuur nie. Die geveg is in die sewende rondte gestop nadat Bakhtov se neus vrylik gebloei het. Visser wat deesdae deur Steve Kalakoda in Kaapstad afgerig word, se geveg teen Siliga was van korte duur.
Visser was baie meer aanvallend as in sy geveg teen Moyo en het vroeg in die eerste rondte sy teenstander harpuis laat ruik.
Sy afrigter het na Visser vir Siliga uitgeslaan het in die hitte van die oomblik, ‘n steek ingekry op Visser se voormalige afrigter, Ali Bashir. “Waar’s die groot Amerikaanse afrigter nou?,” het hy oor die toue geskreeu.
Visser het na die geveg gesê dat hy graag weer teen Moyo deur die toue wil klim om sake reg te stel.


































