Photo GalleriesSportSportSport

Drie uit drie vir NWU

Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – 2019 sal in die rugby-annale as een van die suksesvolste jare in die bestaan van NWU Vaal Rugbyklub opgeteken word. Dit volg nadat die klub Saterdag op sy tuisveld vir die tweede keer in een jaar skoonskip teen Brakpan gemaak het. Die studente het Saterdag op die oewer van die …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – 2019 sal in die rugby-annale as een van die suksesvolste jare in die bestaan van NWU Vaal Rugbyklub opgeteken word.
Dit volg nadat die klub Saterdag op sy tuisveld vir die tweede keer in een jaar skoonskip teen Brakpan gemaak het.
Die studente het Saterdag op die oewer van die Vaalrivier sy tuisskare se tone laat omkrul van lekkerkry toe sy o.21’s (32-3), tweedes (38-7) en eerste span (34 -24) die besoekers van die Oos-Rand oortuigend in die Valke Peregrine-liga geklop het.
Hoewel die boekdraers se o.21 en tweede span van begin tot einde die hef in die hand gehad het, moes sy vlagskip ‘n groot storm trotseer om die kragmeting te wen.
Die besoekers was rustyd met 24-15 voor, maar die tuisspan het in die tweede helfte sy wedstrydplan beter uitgevoer en met ‘n reuse terugvegpoging vorendag gekom om met 34-24 te seëvier en sy plek regstreeks in die halfeindronde te bespreek.
Die Vereeniging Rugbyklub se eerste rugbyspan beklee tans die boonste sport op die punteleer, gevolg deur NWU Vaal.
Die hare en nerwe gaan op 13 Julie in Vereeniging waai wanneer die twee spanne mekaar aandurf om te bepaal wie eerste en tweede in die liga gaan eindig.
Albei spanne kwalifiseer dus regstreeks vir die halfeindronde. Teen wie hulle te staan kom, sal eersdaags bepaal word.
* Die formaat van die Peregrine-liga lyk vanjaar effens anders. Die Valke-spanne word in twee groepe opgedeel.
In groep A sal Springs en East Rand United sake uitspook en in groep B kom Vereeniging, Boksburg, Brakpan en NWU Vaal in twee rondtes teen mekaar te staan om ‘n rangorde van 1 tot 4 te bepaal.
Die eerste ronde is voor Paasfees ingedruk omdat die Peregrine-liga en die nuwe Volcano-reeks tussen die Bulle, Valke en Luiperds gelyktydig plaasvind.
Na die twee rondes in die Peregrinebeker vind die kwarteindronde plaas. Groep A se nommer 1-span speel dan teen Groep B se vierde gekeurde span en Groep A se naasbeste span kom teen Groep B se nommer 3-span te staan, terwyl Groep B se nommer 1- en nommer 2-span regstreeks vir die halfeindrondte kwalifiseer. In die o.21-liga speel al ses die Valke se klubs teen mekaar. NWU is tans bo-aan die punteleer.

Related Articles

 
Back to top button