Rhino wil Skotte stormloop
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Die 27-jarige Valie, Reinard Schuhknecht, wil eersdaags sy onstuimige liefde-haat-verhouding met Skotland beëindig. Hy het pas uit Skotland teruggekeer waar hy as die Wêreld Eenarm houespel- en langdryf-kampioen gekroon is. Hy is in die halfeindronde van die putjiespel uitgeskakel. Die boorling van Vanderbijlpark is al vier keer – twee keer …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Die 27-jarige Valie, Reinard Schuhknecht, wil eersdaags sy onstuimige liefde-haat-verhouding met Skotland beëindig.
Hy het pas uit Skotland teruggekeer waar hy as die Wêreld Eenarm houespel- en langdryf-kampioen gekroon is. Hy is in die halfeindronde van die putjiespel uitgeskakel.
Die boorling van Vanderbijlpark is al vier keer – twee keer in Engeland en twee keer in Ierland- as die Wêreld Eenarm Gholfkampioen gekroon, maar op Skotse bodem ontwyk dié titel hom. “Ek en Skotland verstaan mekaar nog nie lekker nie,” skerts hy op die stoep van Heron Banks Gholfklub in Vaalpark.
Die afgelope twee jaar is hy deur diep waters met ‘n knie- operasie wat sy loopbaan van setperk die sukkelveld ingestuur het.
In Augustus 2018 is ‘n sist uit sy regterknie verwyder wat hom ses maande in plaas van een week, buite aksie gehou het.
“My knie begin nou weer seer raak na al die op- en af loop by die kampioenskap in Skotland, maar ek sien uit na dit wat voorlê. Dit is die eerste keer dat alles vir my betaal word om oorsee te speel,” sê ’n oorstelpte Reinard.
Van 11 tot 14 Julie gaan hy aan die Skotse Ope deelneem. Wat dit nog meer spesiaal vir hom gaan maak, is dat sy broer sy sak vir hom gaan dra. Die wêreld se top 10 gestremde spelers is vir die eerste keer ooit uitgenooi om aan dié Ope deel te neem. Hy het in 2015 die eerste speler geword om die houe- en putjiespel te wen en beoog om by die Skotse Ope sy stempel af te druk.
Na sy knie-operasie het hy eers vanjaar in Januarie sukkel-sukkel begin gholf speel.
Hy het by sy vriend PC Volschenk, ‘n PGA gholf-afrigter by Heron Banks se Golf Akademie vir hulp aangeklop.
“Mens sien nie jou eie foute nie. Reinard het onder sy houe ingegly en ons het baie aan sy basiese vaardighede en balans gewerk,” sê PC. Rhino soos wat Reinard oorsee bekendstaan spog met ‘n uitgebreide ondersteuningsnetwerk wat onder die vaandel van Team Rhino funksioneer.
Sy meisie Tirinta Theron is ‘n sprekende voorbeeld dat agter elke suksevolle man, staan ‘n suksesvolle vrou. Sy staan hom met raad en daad by maar het na haar “ontgroening” as gholfsakdraer in Skotland ’n nuutgevonde respek vir gholfspelers ontwikkel. “Dis baie harde werk. As ‘n man wil gholf speel laat hom gaan, dis harde werk,” sê sy met ’n breë glimlag.
Maar sonder borge kan geen speler presteer nie. Reinard word deur Park Panelbeaters, Heron Banks, HBGA en Impact Bolt and Nut geborg. Besoek gerus Rhino Golf se Facebookblad om sy vordering en loopbaan te volg.







